Bewarea praat oor brande, indringerplante en ander Koepel-kwessies
Dr Biddie Biddulph, voorsitter van die Koepel Bewarea, het die oggend klem gelê op die belangrikheid om die Koepel se biodiversiteit te bewaar, maar ook om 'n gesonde balans te vind tussen die natuur en die mens.

Sterk wind van tussen 25 en 35km/h, en rukwinde van tot 80km/h, het vlamme aangejaag in drie kleiner brande wat oor die naweek in die Vredefort Koepel aangemeld is. Twee van die brande was in die Kopjeskraal-omgewing, met ‘n derde brand by die S-draaie langs die Parys/Potchefstroom-pad.
Die brande kon gou onder beheer gebring word danksy uitstekende werk deur Roepgroep 7 onder leiding van Markus Prinsloo.
Prinsloo was een van die sprekers by die naweek se Koepel Bewarea inligtingsessie wat Saterdag, 6 Julie gehou is. Hy het gesels oor die brandplan vir die huidige brandseisoen, en het grondeienaars aangemoedig om radios te kry en in te skakel op die roepsein. Die belangrikheid hiervan is veral met Sondag se brande gesien.
Prinsloo het ook gepraat oor waterpunte en brandbestrydingstoerusting, en noem dat heelwat meer toerusting beskikbaar is as vorige jare.
Bandbestydingsopleiding word weer einde Julie en in Augustus aangebied, en daar is gevra dat grondeienaars hul plaaswerkers vir die opleiding sal stuur. Hulle sal ‘n formele opleidingsertifikaat ontvang daarvoor.
Working on Fire is beskikbaar om te help met brandbestryding, om brandbane aan te bring, en padskouers skoon te maak. Prinsloo het egter gevra dat grondeienaars veral bedag sal wees op onwettige brandstigting, en verdagte voertuie dadelik sal aanmeld.
Brande in die Vredefort Koepel se bergland gebied is een van die probleme wat vroeër geïdentifiseer is deur grondeienaars op ‘n werksessie wat deur die Koepel Bewarea aangebied is.
Grondeienaars en belanghebbendes het na die werksessie na vore getree om na deeglike navorsing met oplossings vorendag te kom vir die kwessies wat uitgelig is.Terugvoer hieroor is Saterdag, 6 Julie gegee aan die ongeveer 30 grondeienaars wat die inligtingsessie bygewoon het.
Dr Biddie Biddulph, voorsitter van die Koepel Bewarea, het die oggend klem gelê op die belangrikheid om die Koepel se biodiversiteit te bewaar, maar ook om ‘n gesonde balans te vind tussen die natuur en die mens. Hy het die span wat die onderwerpe namens die Bewarea en die Koepel-gemeenskap ondersoek het, bedank.
Onder die sprekers was Flip van der Merwe wat terugvoer gegee het oor onderhandelinge met die Noordwes Provinsie se paaie-departement rakende die swak toestand van die grondpad wat deur die Koepel Vallei van oos na wes loop. Daar was reeds ‘n paar ongelukke op dié pad, en skrik toeriste af wat die pad moet gebruik na verskeie bestemmings in die vallei.
Van der Merwe het gesê dat personeel van die departement saam met hom ‘n ondersoek gedoen het, en onderneem het om die padtekens te herstel en die pad meer gereeld te skraap. Dié werk sal in die volgende week gedoen word. Padskouers op ‘n gedeelte van die pad is ook skoongemaak. Van der Merwe het sy dankbaarheid uitgespreek teenoor almal wat betrokke was by die proses.
Daar moet in die somertyd aandag gegee word aan afleivoere om water van die pad weg te lei, het hy gesê.
Mike Erasmus het die kwessie van ongewenste en indringer plante in die Koepel aangeraak. Hy het raad gegee oor hoe om die plante te bestry – beide meganies en met chemikalië, en noem dat Potch Land Care beperkte fondse vir chemikalieë van die regering gekry het. Die chemikalië is aan grondeienaars versprei. Verdere opleiding in die gebruik van toepaslike chemikalieë, en die bestryding van ongewenste plante sal gereël word.
Gustav Engelbrecht van die Provinsiale Departement van Omgewingsake, het op sy beurt gepraat oor die stand van die Vaalrivier wat waterslaai en besoedeling betref. Hy noem dat heelwat voorbereidingswerk reeds gedoen is om waterslaai, wat op veskeie plekke in die Vaalrivier voorkom, in die Koepel te bestry, sou dit nodig wees.
Daar is reeds met die Nasionale Departement van Water en Sanitasie geskakel oor moontlike bestrydingsmaatreëls. Omgewingsake is tans besig met monitering van die waterslaai in die Koepel-gebied.
Hy het meer inligting gegee oor die Blue Deal projek, wat saam met Nederlandse waterkundiges onderneem word om besoedeling van Parys se rioolwerke te ondersoek, en dan oplossings voor te stel aan die plaaslike munisipaliteit. Hy sê die projek help ook met klimaatsverandering en hoe grondeienaars in die Koepel hulle moet voorberei en aanpas in die verband. Daar sal weer ‘n werkswinkel in September gehou word om die insette van grondeienaars te kry oor bestuursinligting behoeftes.
Waterbesoedelingsyfers van die Vaalrivier in die Koepel is gewys soos gemeet op verskeie plekke in die rivier. Die syfers toon dat rioolstortings op verskeie plekke in die rivier plaasvind wat die watergehalte beduidend verswak. Die besoedeling word deur ‘n komitee van die Departement van Water en Sanitasie ondersoek.
Wat die bobbejaan populasie in die Vredefort Koepel betref, is daar aangedui dat die troppe en getalle van bobbejane in die Koepel deur Andy Robbins van Wildlife Africa, en Gustav Engelbrecht van die Departement van Omgewingsake, ondersoek word. Grondeienaars is daarop gewys dat bepaalde riglyne, regulasies en wetgewing gevolg moet word wanneer daar oorweeg word om troppe uit te dun, byvoorbeeld ook om die sosiale struktuur van die troppe te verstaan en in ag te neem. Daar is gevra dat uitdunnings as ‘n laaste uitweg beskou moet word.
Robbins het ook gesels oor onwettige georganiseerde jag op plase waar daar gejag word op trek wild, die onwettige jag met honde, en strikke wat gestel word om diere en vis te vang.
Hy het grondeienaars aangemoedig om opleiding hieroor aan werkers te gee, maar ook om gereeld deur die plaas te gaan om strikke te identifiseer en te verwyder. Dit geld ook vir onwettige nette en vishoeke wat in die Vaalrivier gestel word.
Verdere werk aan van die probleem-areas wat die oggend bespreek is, moet nog gedoen word, en terugvoer hieroor sal mettertyd weer aan die gemeenskap gegee word.
‘n Nuwe projek sal ook aangepak word met die opname van fauna en flora in die Vredefort Koepel.