Ondersoeke gedoen na brand by Nasionale Hospitaal
Na die brand by die Nasionale Hospitaal is daar 'n tekort aan hospitaalbeddens in Bloemfontein, en sal pasiënte na ander gesondheidsfasiliteite in Manguang vervoer word, het de Vrystaatse Departement van Gesondheid vandeesweek gesê.

Forensiese ondersoekers van die polisie het Donderdagmiddag by die Nasionale Hospitaal in Bloemfontein met hul ondersoek begin na die brand wat die vorige naweek buite die pediatriese saal ontstaan het, en toe na die eerste en tweede vloere van die hospitaal versprei het.
Die Vrystaatse Departement van Gesondheid het Donderdagmiddag in ‘n verklaring gesê dat amptenare van dié departement toe nog nie toegang tot die hospitaal gehad het nie omdat daar eers gewag moes word vir die polisie om hul onderoek te voltooi Sodra die polisie ondersoek voltooi is sal die gebou aan Departement Arbeid oorhandig word om hul ondersoeke te doen. Eers dan sal die Departement van Gesondheid weer toegang tot die gebou hê.

As gevolg van die ondersoeke wat afgehandel moet word, kon pasiëntelêers nie gekry word nie, en moes ook gewag word om die nege liggame van pasiënte wat gesterf het voor die brand, uit die hospitaal se lykshuis te verwyder, het Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaatse Departement van Gesondheid gesê.
Die departement het egter sy verskoning aangebied vir enige ongerief as gevolg van die brand vir familie van die oorledenes wat nog in die hospitaal lykshuis gehou is, en die publiek wat verontrief is deur mediese dienste wat nie by die Nasionale Hospitaal gelewer kon word nie, het Mvambi gesê.
Die publiek is gevra om na hul naaste klinieke te gaan vir mediese dienste of alternatiewelik na die Poly Clinic by Pelenomi Hospitaal, die Dr JS Moroko Hospitaal in Thaba Nchu en die Botshabelo Distriks Hospitaal
Die Departement het gesê dat weens die huidige tekort aan hospitaalbeddens in Bloemfontein, sal pasiënte na ander gesondheidsfasiliteite in Manguang vervoer word soos hospitale in Botshabelo, Thaba Nchu, Ladybrand en Trompsburg. Verder is gesê dat pasiënte na die onderskeie hospitale waar nodig vervoer sal word en weer terug na Bloemfontein wanneer hulle ontslaan word.



