Local newsNews

Awie se Vaaljapie ‘n bekende in dié dorp se strate

Elkeen van ons koester herinneringe - of dit nou aan iemand, iets of 'n spesiale gebeurtenis is. Vir Awie Engelbrecht is dit sy pa se 1955 Vaaljapie trekker.

Awie, ‘n rekenmeester en finansiële adviseur van Parys, het die afgelope twee jaar die Ferguson TED 42, in die volksmond bekend as die Vaaljapie weens sy donkergrys kleur, pynlik netjies gerestoureer.

Awie vertel dat sy pa, Kerneels, in die vroëe vyftigerjare vir ‘n Joodse sakeman van Mokopane {Potgietersrus) in die distrik Marken/Baltimore (sowat 120km oos van Mokopane) geboer het. In 1955 koop oom Kerneels sy skoonma se plaas en begin op sy eie boer.

Dit is toe dat hy besluit het om die Vaaljapie met ‘n skeerploeg en planters, by Noord-Transvaal Trekkers vir 1 400 pond (sowat R2 800) te koop. Hulle het die trekker op die plaas Lusthof gebruik.

Oom Kerneels het begin om die bosveld te tem, en lande begin. Later het hy sowat 200 hektaar land uitgelê. Toe het die ploeg en plantwerk begin, en oom Kerneels en sy seuns, Neels, Awie en Willie het die Vaaljapie laat les opsê!

Vir 40 jaar lank het die einste trekker dag na dag die lande op Lusthof bewerk, vertel Awie. Die Engelbrechts het hoofsaaklik met grondbone geboer. In die negentiger jare is oom Kerneels oorlede, en is die plaas in ‘n trust gesit om vir sy vrou, Louisa, te sorg.

Die seuns en kleinseuns het die plaas steeds bewerk totdat die plaas later verkoop is.

Die Vaaljapie het lank op die plaas gestaan en is steeds gebruik, maar het mettertyd verwaarloos.
Drie jaar gelede besluit Awie toe om die trekker weer tot sy reg te laat kom en sleep hy hom Parys toe.
“Op ‘n bokseil (vroulief Stella het my die dood voor die oë gesweer as sy ‘n kolletjie olie op die oprit sien!) het ek met die restoureerwerk begin.” Vir twee jaar lank het Awie oor naweke aan die Vaaljapie gewerk. “Ek het ‘n werktuigkundige en ‘n trekkerkenner gekry om dele van die enjin weer op te bou. Ek moes ook van die onderdele invoer.”

Awie het die oorspronklike verf, Ferguson grys of duikbootgrys, in die hande gekry en die trekker oorgeverf.
Sowat vier maande gelede is die restourasiewerk voltooi, en kon Awie sy jong dae herleef wanneer hy met die trekker rondry.

Awie woon in Parys se middedorp, en is Parysenaars al gewoond daaraan om hom op sy Vaaljapie die strate vol te sien ry, veral as hy gereeld met sy trekker kruideniersware en water gaan koop, of oudergewoonte gaan draai by Welkom-kafee vir ‘n Vrydagaand ‘vis en chips’ bederf.

“Ek geniet my trekker baie en orals waar ek kom, waai en groet mense.”

Hy wil mettertyd die Ferguson na sy skoonseun se plaas in die Koppies-distrik neem om dit daar te stoor.
“Dit is so 120km ver en ek gaan met my Vaaljapie soontoe ry,” sê Awie.

Hy sal steeds plaas toe gaan om op sy trekkertjie te ry – sy jarelange droom verwesenlik om weer eendag op pa Kerneels se Vaaljapie te ry. En dit doen hy met vreugde!

Die Ferguson, wat in die veertiger jare deur ‘n Britse ingenieur, Harry Ferguson, ontwerp is, was ‘n deurbraak in trekkertegnologie omdat dit die eerste trekker was wat met ‘n hyser (lift) uitgekom het.

In 1953 het Ferguson met Massey-Harris, wat toe al ‘n geruime tyd bestaan het, saamgesmelt en so het Massey Harris-Ferguson tot stand gekom.

Dit is later verkort na Massey-Ferguson, en het die vaalgryskleur van die Vaaljapie plek gemaak vir die bekende rooi en wit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button