Liebenberg-moorde: Aanloop tot ‘n tragedie vertel
Die navorser en skrywer van die boek, Horst Müller, het met die groep se besoek aan Liebenbergkoppie, verduidelik dat die ontstaan van die boek te danke was aan Pieter Liebenberg - 'n direkte afstammeling van die Barend Liebenberg-trekgeselskap
Wat het by Liebenbergkoppie aan die noordekant van die Vaalrivier ongeveer 6km buite Parys gebeur?
Intensiewe navorsing oor die tragiese gebeure by dié koppie die nag van 22 Augutus 1836 toe die trekgeselskap van Voortrekkerleier, Barend Liebenberg, hier vermoor is, is vir die eerste keer in ‘n boek saamgevat.
Die boek is die afgelope naweek bekendgestel tydens ‘n geskiedenistoer van Parys. Die toer is angebied deur die FAK se Udolpho Rivierplaas, en gelei deur FAK Kultuurorganiseerder, Jan-Danie Malan.
Die navorser en skrywer van die boek, Horst Müller, het met die groep se besoek aan Liebenbergkoppie, verduidelik dat die ontstaan van die boek te danke was aan Pieter Liebenberg – ‘n direkte afstammeling van die Barend Liebenberg-trekgeselskap wat vrae gevra het oor die gebeure by die koppie waartydens die meeste van die Liebenberg-trekgeselskap in die aanval gesterf het.
Pieter wat van Witbank is, en sy suster, Annetta Bosh van Bloemhof, het die koppie in Augustus 2023 besoek, vergesel deur Müller en Christo Meyer. Die broer en suster se nageslag kan terug gevolg word tot by Christiaan Jacobus Liebenberg wat ten tyde van die moorde op ‘n ekspedisie na die noorde, saam met Hendrik Potgieter was om ‘n roete vir die trek te bepaal. Christiaan se vrou, Francina Maria Johanna Liebenberg, was egter in die Liebenberg-kamp, en het die aanval deur die Matebele impi’s van Msilikaats oorleef, hoewel sy swaar gewond was.
In ‘n emosiebelaaide oomblik, het Pieter Saterdag ‘n krans gelê by die gedenkplaat wat opgerig is ter nagedagtenis aan diegene wat by Liebenbergskopie vermoor is, en die 3 kinders wat deur die Matabeles ontvoer en nooit weer gevind is nie.
Daarna is die terrein by Kopjeskraal besoek waar die Slag van die Vaalrivier plaasgevind het op die dag na die moorde by Liebenberg-koppie. Dit is hier aan die voet van Kopjeskraal waar die vermoorde Liebenbergs begrawe is, en waar die Tswana-krale nog lê.
Generaal De Wet is ook hier deur ‘n goed-beplande lokval deur die Britte verras, maar kon wegkom.
Saterdag se selfry-toer het begin en geeïndig by Udolpho wat oor die jare as kultuurplaas ontwikkel is, en vandag baie gewild is onder besoekers. Hier is gestop by Ouma se Huis, ‘n unieke plaasmuseum wat ‘n lewende herinnering is aan toeka se tye, saamgestel uit erfstukke en jare se versamel en bymekaarmaak.
Daar is ook by die Parys-museum gekyk na hoe die dorp oor jare ontwikkel het.
Sowat 20 mense het die toer meegemaak.

Malan het na die toer gesê: “Ons hoef nie ver en wyd te soek vir erfenis bewaring nie. Dit is deel van ons daaglikse lewe en bestaansrede. Die afgelope week is voorbrande gemaak op Udolpho, maar die sterk wind het vuur begin versprei. Dit is hoe ek die FAK sien – ‘n vlam wat nie geblus kan word nie, maar altyd innoverend en nuut is.”

Müller se boek handel naas die gebeure by Liebenbergkoppie, ook spesifiek oor die Slag van die Vaalrivier, en die Slag van Vegkop by Heilbron. Die boek is by Udolpho beskikbaar en mense kan navrae hieroor rig by 082 965 7002.



