Local newsNews

Samewerking te midde van waternood

Nog geen datum kan gegee word vir voltooiing van die herstelwerk by Parys se watersuiweringswerke .

Daelange waterprobleme in hoofsaaklik die woongedeelte bekend as Vaal Parys, maar wat ook die hele dorp en veral Schonkenville geaffekteer het, het van verlede Donderdag tot Sondag enorme uitdagings vir die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se tegniese span veroorsaak.

Die uiteindelike oorsaak van die waterprobleme het later geblyk ‘n foutiewe klep te wees op die hoof watertoevoerlyn. Die probleme het aanvanklik Donderdag begin met knaende pypbarste, en pype wat by laste weggetrek het van mekaar weens die hoë waterdruk Van Donderdag af is konstant gewerk om gebarste pype reg te maak, voordat daar Maandag ontdek is dat die drukking te wyte was aan die foutiewe klep toe toetse op kleppe in die waternetwerk gedoen is.

Die gestoei met die eindelose waterprobleme het beteken dat daar op ‘n stadium nie meer water gepomp is vanaf die dorp se watersuiweringswerke nie, om die tegniese span kans te gee om die nodige herstelwerk te kon doen.

 

Talle groot pyplekke moes verlede week herstel word. Foto: Rdl Marinda Matthyssen-Engelbrecht

Die waterprobleme het groot frustrasie vir inwoners veroorsaak met geen alternatiewe watervoorsiening wat beskikbaar gestel is nie, behalwe vir enkele weldoeners wat hulp aangebied het met water.

Die waterprobleme wat verlede week in Parys ondervind is met ‘n foutiewe klep en talle pyplekke het enorme uitdagings vir Ngwathe se tegniese span gebied. Foto’s verskaf deur rdl. Marinda Matthyssen-Engelbrecht

Rdle Marinda Matthyssen-Engelbrecht en Saal en Jager het gesê dat ten spyte van die krisis uitsonderlike goeie samewerking van die munisipale bestuurder, dr. Mothamaha, en die waarnemende tegniese bestuurder van Ngwathe, Mxolisi Pali, gekry is wat deurentyd opgevolg, en seker gemaak het dat die probleem reggestel word.

Hoewel daar nog ruimte is vir verbetering met basiese toetsprosesse en gereedskap, was pype en ander materiaal wel beskikbaar, en verdien die tegniese span erkenning vir die toewyding wat daar die afgelope week gesien is onder leiding van die munisipale bestuur. Munisipale kommunikasie het ook oor die afgelope maande reeds verbeter.

Mothamaha het by navraag aan Gazette gesê dat verouderde infrastruktuur soos die asbespype in die waterverspreidingsnetwerk steeds enorme probleme veroorsaak, maar dat die munisipaliteit in die proses is om die asbespype met pvc pype te vervang wat nie net ‘n langer leeftyd het nie, maar sal help om in die toekoms krisissituasies soos wat gereeld gesien word met pypbarste uitgeskakel kan word. Die pypbarste is tans een van die redes vir gereelde wateronderbrekings.

Mothamaha het ook genoem dat die pvc pype makliker vervangbaar is wanneer daar barste is, as die ou asbespype.

Mothamaha sê dat vordering met die herstelwerk by die watersuiweringswerke nog nie na wense is nie, maar het die versekering gegee dat die munisipaliteit in voortdurende gesprek is met die kontrakteur om te verseker dat die kontrak so gou moontlik voltooi word om beide waterkwantiteit en waterkwaliteit te verbeter, en te verseker dat alle gebiede wat tans deur watertekorte geraak word, water sal hê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button