Menige Parysenaar wat moes gaan vir hul leerling- en bestuurslisensie, onthou Gary Richards as die vriendelike, innemende toetsbeampte wat vir jare by die provinsiale verkeerskantoor en toetsstasie in Parys gewerk het. Die man met die sagte omgee hart, maar wat soms ook kwaai kon wees.
Gary is op 26 Augustus oorlede nadat hy die afgelope maande met sy gesondheid gesukkel het. Hy was 76 jaar oud.
Gary was van 1985 tot 1998 provinsiale verkeersbeampte in Parys en het destyds van Smithfield na Parys verhuis. Hy was die grootste deel van sy lewe in Parys gevestig, en bekend vir die messe wat hy gemaak het. Sy liefde vir jag en sy windhonde het uitgestaan.
‘n Godsdienstige mens, vrygewig en liefdevol wat diep in baie harte ingekruip het. Iemand vir wie sy werk sy trots was.

Die gedenkdiens vir Gary is Vrydag gehou. Hy word oorleef deur sy seuns, Chris, André en John-Lee Richards, asook ‘n kleindogter en sy suster.



