Doornkloof-kampe gaan voort ten spyte van brandskade
"'n Groot deel van die weiveld op Doornkloof is vernietig, en daar is 'n behoefte vir voer vir die diere waaraan aandag gegee, en hulp gevra is," het Engelbrecht gesê.
Net enkele dae nadat daar op die Voortrekker-plaas, Doornkloof, in die Lindley-distrik feesgevier is om die 85 jaar te gedenk wat die plaas in Die Voortrekkers Vrystaat se besit is, is groot skade deur ‘n verwoestende veldbrand op en om die plaas aangerig.
Die brand het verlede Donderdag om 12:30 begin op ‘n plaas rondom die kruispad waar mense in die veld gesweis het, het Willie Engelbrecht gebiedsleier van Die Voortrekkers Vrystaat in ‘n stemboodskap gesê.
Die plaaswag en brandverenigings van Lindley, Petrus Steyn, Steynsrus en Edenville distrikte het vinnig gereageer en gehelp om die brand teen ongeveer 18:00 die aand te kon stuit. Engelbrecht het sy en die Voortrekkers se dank uitgespreek vir die harde werk en vinnige hulp.
“Ook almal op die plaas wat so hard gewerk het in hierdie moeilike tyd.”
“‘n Groot deel van die weiveld op Doornkloof is vernietig, en daar is ‘n behoefte vir voer vir die diere waaraan aandag gegee, en hulp gevra is,” het Engelbrecht gesê.
Hoewel daar skade is op die Suiderkruis-terrein, skade aan van die leierskapbane, en ook om die Soetdoring-saal en die algemene stoor voorraad, is daar geen skade op die ander Doornkloof-kampterreine nie.
Engelbrecht het die versekering gegee dat die Penkop- en Drawwertjie-gebiedskampe sal voortgaan, en sal sowat 30 graad vier tot sewe Voortrekkers en offisiere van die Parys Voortrekkerkommando hierdie skoolvakansie op Doornkloof kamp. Parys se Voortrekkers was ook voorverlede naweek op Doornkloof vir die Voorslagtoetskamp.
Doornkloof was die plaas van Voortrekkerleier Sarel Cilliers waar hy op 70-jarige ouderdom gesterf het, en begrawe is. Bekende besienswaardighede op die plaas is die Cilliers-opstal, die Sarel Cilliers-museum, en trekkerspoor-staproete.
Engelbrecht het gevra dat mense sal bid vir almal in die omgewing wat deur die brand geraak is.
Doornkloof is ook in Februarie 2022 deur ‘n tragedie geraak toe die 59-jarige Chris Gillomee, terreinbestuurder by Doornkloof, deur vloedwater meegesleur is en groot skade op die plaas aangerig is deur die watermassa.