Beeste barbaars vermink in Vrystaat
TLU doen ‘n beroep op die gemeenskap nadat 12 beeste vermink en wreed geslag is.
Twalf beeste is Woensdagoogend op ‘n grusame manier vermink en geslag. TLU sowel as die gemeenskap van die Vrystaat is in skok en dring aan op aksie.
Na aanleiding van die skokkende beeldmateriaal van 12 beeste wat Woensdagoggend vroeg op grusame wyse vermink en geslag is, doen TLU SA ‘n dringende beroep op boere in die Goudveld-omgewing om saam te werk en veiligheidstrukture te versterk.
Hierdie misdaad, wat op die plaas van Edrich Wille tussen Ventersburg en Virginia plaasgevind het, volg kort ná soortgelyke aanvalle op ander plase in die omgewing op 24 en 30 Augustus, vermoedelik deur dieselfde veediewe.
TLU SA Vrystaat veroordeel hierdie barbaarse daad ten sterkste en sal die verwikkelinge met afwagting dophou. “Ons is vasbeslote om saam met ander landbou-organisasies te werk om hierdie gruwelike misdaad hok te slaan en sal alles in ons vermoë doen om die skuldiges verantwoordbaar te hou,” sê Bertus van der Westhuizen, streekvoorsitter van TLU SA Vrystaat.
“Dit is verontrustend dat sulke wrede misdadigers nog steeds vry rondloop, en die publiek het rede om oor hul veiligheid bekommerd te wees. Ons doen ‘n beroep op die owerhede om daadwerklik op te tree en die misdadigers vinnig agter tralies te kry. Die wette wat hier geskend is, insluitend betreding, dieremishandeling, veediefstal en handel in gesteelde goedere, moet streng toegepas word en die skuldiges moet swaar strawwe opgelê word,” sê Van der Westhuizen.
Die omvang van veediefstal en hierdie tipe barbaarse aanvalle het ‘n geweldige impak op die landbou en die breër ekonomie. In Junie alleen is meer as R9 miljoen se vee gesteel. Hierdie verminkte beeste was waardevolle aanteelvee, en die boer het nie net sy vee verloor nie, maar ook sy toekomstige produksie.
“Ons betuig ons medelye met die boer en sal voortgaan om alle moontlike stappe te neem om te verseker dat die oortreders nie net verantwoordelik gehou word nie, maar so lank as moontlik opgesluit bly,” sluit Van der Westhuizen af.