Troosdiens vir geliefde prof Hans Saterdag gehou
Prof. Hans was 'n week voor sy dood in Parys waar hy 'n skryfwerkswinkel aangebied het.
Die troosdiens vir prof. Hans du Plessis , visionêre reus van die Afrikaanse taal en letterkunde, vind plaas Saterdag 2 November om 11:00 vanuit die NG gemeente Grimbeeckpark, h/v Zederberg- en Lupinestraat, Potchefstroom.
‘n Gedenkdiens om sy lewe en nalatenskap te vier, sal ook vroeg in 2025 gehou word. Dié gedenkdiens sal gekombineer word met die bekendstelling van Du Plessis se laaste boek, Klein Wonderwerkie, wat kort voor sy afsterwe afgehandel is. Du Plessis se wens was dat die boek in 2025 as deel van die Afrikaans Amptelik 100-vieringe bekendgestel word. Die diens sal ook sy bydrae tot en nalatenskap in Afrikaans eer.
Du Plessis wat veral bekend was vir sy verwerking van die Psalms in Griekwa-Afrikaans, is Vrydag 25 Oktober enkele maande voor sy 80ste verjaardag by die aftreeoord in Potchefstroom waar hy en sy vrou, Magdaleen, gevestig was, oorlede. Hy sou in Januarie 80 geword het.
Om dit vir familie, vriende en ander geliefdes makliker te maak om Saterdag se troosdiens by te woon, sal ‘n regstreekse uitsending van die diens op Du Plessis se Facebook-blad gevolg kan word. Diegene wat beplan om dit in persoon by te woon, word versoek om die familie van hul voorneme in kennis te stel sodat voldoende logistieke reëlings getref kan word.
Twee aspirant skrywers van Parys wat prof. Hans se laaste skryfwerkswinkel ‘n week voor sy dood in Parys bygewoon het, het die volgende gedigte geskryf en opgedra aan prof. Hans wat ‘n besondere indruk gelaat het toe hy in Parys was.

Die gedig, Kokerboom is deur Jestus Fouché van Parys geskryf en opgedra aan prof. Hans:
Kokerboom
Onder die Afrika son,
so tussen rots en sand
staan jy onwrikbaar vas,
dra jy met trots jou goue kroon.
Jou wortels sterk,
waar dit strek
tot in die dieptes van ons moederhart.
Jou bas is sag en broos
word dit ‘n Koker vir ons vers en klank,
bewaar jy dit vir eeue lank.
Hier waar Khoi en San
saam Gemsbok kom stof skop,
en bid vir reen,
staan jy ou grote Kokerboom
soms ook alleen.
Die wind kom streel vandag
vir oulaas teer oor jou,
met ‘n soete vers en klank
bewaar ons jou Erfenis vir eeue wat kom.
Vandag dans jy kaalvoet jou laaste riel
“Die jirre jou skawagter”
Lees ook Paul du Toit van Parys se gedig, Ons Strepie, opgedra aan prof. Hans.
Ons Strepie
Op grafstene pryk gewoonlik twee datums:
’n aanvang en ’n einde,
verbind deur ’n enkele streep.
Daardie eenvoudige streep,
sê soveel in sy stilte—
Vir sommige ’n flits van ure,
vir ander die bouwerk van dekades,
vir enkeles ’n eeu en meer.
Die streep, soms swaar van betekenis,
soms ontstellend leeg.
Hier lê ’n man met bykans ag dekades
se sin en gees in sy streep gebundel.
Vir Afrikaans het hy geleef,
skryf was sy vuur,
sy passie, om ander te leer.
Prof Hans,
jou werk is voltooi,
jou reis hier afgeloop.
Jou streep, vólgelaai met lewensherinneringe—
Jou rus is welverdiend.
Jy kan die berig oor die skryfwerkswinkel in Parys lees by: https://www.citizen.co.za/parys-gazette/news/news-news/2024/10/24/die-inspirasie-e…irasie-van-skryf/



