Die einde van byna vier jaar se ellende ook hier onthou
Die oorlog sou later bekend word as ‘n loopgraafoorlog, met grootskaalse bomaanvalle.
Die herdenking van die geskiedkundige gebeure van 11 November 1918, toe die hartseer en ellende van die wêreld se eerste groot oorlog , uiteindelik op die 11de uur van die 11de dag van die 11de maand tot ‘n einde gebring is, word Sondag ook plaaslik by die MOTH-klub in Luytstraat herdenk met ‘n parade, kranslegging en twee minute van stilte. Die verrigtinge begin om 10:30 en is mense welkom om kranse te bring en deel te neem aan die verrigtinge.
Die dag, ook bekend as Wapenstilstanddag of Poppiedag, was die dag toe die wapens neergelê is, en kanonne stilgeraak het na ‘n oorlog van bykans vier jaar waarin meer as 17 miljoen gesterf het.
Die Eerste Wêreldoorlog het geduur van 28 Julie 1914 tot 11 November 1918, en was die eerste oorlog waarby soveel lande betrokke was. Meer as 70 miljoen uit 40 lande- ook Suid-Afrikaners – het hul lewens gewaag in die vernietigende oorlog wat gevolg het op die konflik tussen die geallieerde magte en die Sentrale Moondhede.
Die oorlog sou later bekend word as ‘n loopgraafoorlog, met grootskaalse bomaanvalle.
Suid-Afrika, toe nog die Unie van Suid-Afrika, se deelname was onvermydelik as deel van die Britse Ryk. Hiervan is die talle monumente en gedenktekens wat hulle onthou wat in die oorlog gesterf het, ‘n stille getuienis.
“Ongelukkig, weens groot ongelukkigheid en onrus, rebellie in Suid-Afrika, en die Groot Griep wat gevolg het, is daar nooit groot erkenning gegee aan die rol wat Suid-Afrikaners in die Eerste Wêreldoorlog gespeel het nie.,” skryf Kobie Ströh op Monumente, Gedenktekens en Interessanthede in Suid-Afrika.
Die Wapenstilstand:
Die wapenstilstand tussen ‘n verslane Duitsland en die geallieerdes is op ‘n treinwa buite Compiegne, Frankryk gesluit kort voor 05:00 die oggend. Presies om 11:00 op die 11de November 1918 was die bekende dreuning van die kanonne stil.‘n Stilte wat jaarliks oor die wêreld herdenk word met kransleggings en parades.
Hoekom die rooi poppies?
Die gebruik om rooi papawer/poppie lapelwapens, of selfs rooi blomme of kranse met rooi poppies te lê, skryf Kobie het sy oorsprong uit Vlaandere, België, wat die bloedigste slagveld tydens die oorlog was met sy loopgrawe, en rooi papawers of poppies wat oral in die velde op die Wes-Front in vol blom gestaan het.Selfs in die briewe aan hul geliefdes, het soldate die blomme wat hulle gepars het, gesit.Die poppie-blomme met hul kort lewensduur – simbolies van jong soldate wat in die fleur van hul lewens gesterf het, en die vier blomblare – die simboliek van soldate wat uit vier uithoeke van die wêreld gekom het.Interessant is dat die pers poppieblomme in 2006 bygevoeg is as simboliek om ook die miljoene diere te onthou wat in haglike omstandighede die mens in hierdie oorlog getrou gedien het tot die dood. Miljoene perde het onder andere omgekom.
Die twee minute stilte ter herdenking van die dag waarop die wapens neergesit is, is die eerste keer op 14 Desember 1918 in Kaapstad gehandhaaf. ‘n Gebruik wat vandag oor die wêreld op die dag gehandhaaf word te danke aan Sir Percy Fitzpatrick, die bekende skrywer van Jock of the Bushveld. wie se seun, ook Percy, op 14 Desember 1917 in Frankryk gesterf het. Hy was net 28 jaar oud