Mini’s maak groot verskil vir DBV-nood
Parys DBV het steeds nood vir Jeys Fluid, kos vir baba katjies en hondjies, kos vir volwasse honde en katte, asook waspoeier vir die diere se beddegoed.
Hulle is net ‘n paar sentimeter groot en deesdae skaarser as hoendertande, maar klein soos die Checkers mini’s is, het hulle versamelaars van dié gewilde produk-replikas al vir weke aan die koop, ruil en verkwansel.
Anders as in baie ander huise, was die mini’s nie ‘n groot craze in die Hager-huishouding nie, vertel Liezel. “Daar het seker al 40 van hulle in ‘n bak in my kombuis gelê,” voeg sy by. Dit was tot sy op Facebook raakgelees het dat iemand in Jeffreysbaai die mini’s gebruik om hondekos bymekaar te maak. Toe sy boonop die nood van die Parys DBV vir hondekos ook op Facebook raaklees, het Liezel besluit om die mini’s te gebruik om ook hier ‘n verskil te maak vir hondemagies.
Aanvanklik het sy geadverteer dat mense 1kg hondekos kon skenk in ruil vir een van haar mini’s. Later het sy aangebied dat mense R15 vir ‘n mini kon gee waarmee sy dan hondekos sou gaan koop vir die DBV.
Mense het nie net mini’s kom ruil nie, maar selfs mini’s en hondekos geskenk vir die projek. Baie ondersteuning vir haar plan is ook van kliënte van Fierce Fitness gekry, vertel Liezel. Drie dae nadat sy die eerste keer haar mini’s geadverteer het, het Liezel 308kg hondekos bymekaar gehad wat sy aan die DBV oorhandig het. “Ek is oorval met navrae,” sê Liezel, en voeg by dat die pienk mini-trollie by verre die gewildste was. Daarom beplan Liezel om ‘n pienk trollie-veiling te hou en gaan sy ‘n WhatsApp-groep begin vir dit.
Mense wat wil deel wees kan haar WhatsApp op 082 568 2421. Geld wat met die veiling ingesamel word sal ook gebruik word om hondekos en katkos vir die DBV te koop. In 2022 het Deandré Pieterse wat tans ‘n matrikulant by Hoërskool Parys is, dieselfde inisiatief gebruik om met die Checkers mini’s 400kg se hondekos vir die plaaslike DBV in te samel.
Deandré het mense aangemoedig om 1kg hondekos-pakkies teen R15 by haar te koop in ruil vir ‘n mini. Die hondekos wat so verkoop is, is dan weer geskenk aan die DBV. Sy het selfs volledige versamelings van vorige mini-reekse gehad wat mense kon ruil – ‘n mini vir hondekos. Dit was ook nie die eerste keer dat dié jong entrepreneur haar hart vir die DBV oopgemaak het nie. In haar graad vyf jaar het Deandré en haar ma, Monica, al met die blink ruilplan vorendag gekom, en toe daarin geslaag om 1.1ton se hondekos aan die DBV te oorhandig.
Checkers het sy Little Shop in 2016 bekendgestel met die eerste versamelbare mini-replika produkte wat onmiddellik baie gewild was onder nie net kinders nie, maar selfs volwassenes. Die mini’s het jy gratis gekry wanneer jy vir ‘n bepaalde bedrag kruideniersware by die kettingwinkel gekoop het.
Mense regoor Suid-Afrika het na die kettingwinkelgroep gestroom om hul hande op die versameling te kry, met selfs ruildae wat by winkels gehou is. Die nuutste mini-reeks met 44 gewilde produkte, almal gemaak van herwinbare materiaal, is in September bekendgestel, en het die pienk Discovery Checkers mini-trollie rekordbedrae gehaal onder versamelaars wat nie omgegee het om te betaal vir ‘n pienk trollie nie. Saam met elke mini het ‘n versamelaarskaart gekom, en het die nuutste reeks ook ‘n paar nuuthede gebring. Van dié klein replikas kan glim in die donker, het die reuk van die produk wanneer jy daaroor vryf, en wys die piepklein lugbraaier selfs vir jou die temperatuur. Met die Little Shop Goes Xtra-veldtog wat die naweek eindig is jy gelukkig as jy nog iewers ‘n mini raakloop.
* Parys DBV het steeds nood vir Jeys Fluid, kos vir baba katjies en hondjies, kos vir volwasse honde en katte, asook waspoeier vir die diere se beddegoed.