Local newsNews

Deurbraak in soektog na moordenaars van wildsplaas bestuurder

Sy dood is beskryf as 'n vreeslike verlies wat diep sny in die harte van sy gesin, familie en vriende. 

Net enkele dae voor die troosdiens van die 32-jarige Ian Boshoff wie se liggaam deur ‘n buurman op 26 Oktober op die Snymanshof wildsplaas langs die Frischgewaagd-grondpad naby Fochville gekry is, is ‘n deurbraak gemaak in die soektog na sy moordenaars.  Brig Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie in Noordwes, het  aan Gazette bevestig dat drie mans ingeneem is vir ondervraging in verband met die saak.

Gazette het vroeër berig dat Ian se liggaam met skietwonde in die kantoor van sy woonhuis gekry is, nadat die buurman gaan ondersoek instel het toe hy onraad vermoed het omdat Boshoff nie op boodskappe van vroeër die dag gereageer het oor wildsdrade wat van die bure gesien het, geknip was.

Boshoff is deur nooddienste op die toneel dood verklaar.

Kol. Adéle Myburgh het vroeër aan Gazette bevestig dat ‘n TV, DVR, twee vuurwapens en selfone uit Boshoff se woonhuis vermis is, asook matrasse uit die lodge op die wildsplaas.

Die Land Cruiser wat tydens die voorval op die wildsplaas gesteel is, is ‘n dag nadat Boshoff se liggaam gekry is, langs die R502 naby Orkney gekry met een van die gesteelde matrasse, het Myburgh gesê.

Boshoff was nie getroud nie en is oorspronklik van Bothaville waar ‘n troosdiens Saterdag om 10:00 vanuit die NG Moedergemeente Bothaville gehou sal word.

Boshoff is die seun van Bossie en Sonja Boshoff.

Ian Boshoff. Foto: Facebook

Sy dood is beskryf as ‘n vreeslike verlies wat diep sny in die harte van sy gesin, familie en vriende.

Hy sal onthou word as iemand wat met liefde en deernis gelewe het.

In 2012 is Bernadette Hall en haar man, David, deur vyf mans op hul plaas Frischgewaagd, ook langs die Frischgewaagd-grondpad, aangeval. David is in die aanval oorlede en Bernadette ernstig beseer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button