Eskom gee kennis oor dié dorpe se krag
Die sluitingsdatum vir besware en kommentaar is 6 Januarie 2025. Eskom sal sy finale besluit oor die Tokologo Munisipaliteit se situasie op 16 Januarie bekendmaak.
Die Vrystaatse dorpe Boshof, Seretse, Dealesville en Hertzogville, kan vanaf 31 Janaurie 2025 moontlik vir ‘n aantal ure per dag sonder krag sit as gevolg van die Tokologo Plaaslike Munisipaliteit se versuim om sy skuld aan Eskom te betaal. Eskom het vandag in ‘n verklaring bekendgemaak dat ‘n kennisgewing oor moontlike kragvermindering aan dié munisipaliteit gepubliseer is ingevolge die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid (PAJA).
Eskom sê die Tokologo Munisipaliteit skuld reeds meer as R328m. Die bedrag sluit nie die huidige rekening van meer as R3,68m in wat op 20 November betaal moes wees nie.
Eskom sê verder die laaste betaling wat Eskom van die Tokologo Munisipaliteit ontvang het, was R150 000 wat in Oktober 2021 betaal is.
Eskom sê ook die Tokologo Munisipaliteit verhaal gelde van verbruikers vir kragvoorsiening, maar versuim om sy deel aan die kragverskaffer te betaal. Voorts word gesê dat Eskom se besluit om voort te gaan met die voorgenome proses, ‘n laaste uitweg is om te verhoed dat die skuld buite beheer raak.
Die munisipaliteit se versuim om sy verantwoordelikheid na te kom ondermyn en plaas druk op Eskom se vermoë om kragvoorsiening nasionaal te kan doen op ‘n finansieël volhoubare wyse. Daarom moet die kragvoorsiener sy reg uitoefen in nasionale belang om volhoubare kragvoorsiening te kan lewer om ekonomiese groei te ondersteun, sê Eskom in die verklaring.
Geaffekteerde partye kan nou skriftelike vertoë indien na aanleiding van Eskom se kennisgewing aan die Tokologo Munisipaliteit.
Besware kan ingedien word by:
Senior Advisor Key Sales and Customer Services
120 Henry Street, Westdene, Bloemfontein
of stuur e-pos na FSTokologo@eskom.co.za
Die sluitingsdatum vir besware en kommentaar is 6 Januarie 2025. Eskom sal sy finale besluit oor die situasie op 16 Januarie bekendmaak.