Kokanje se ‘konserttannie’ laat akteurs skitter
"Twee van die spelers in die Mamma Mia-produksie was van Fochville en het alreeds gevra dat die produksie volgende jaar ook in Fochville aangebied moet word," sê sy.
“By die Kokanjé-aftreeoord in Nylstroom het mense my geken as die ‘konserttannie’,” vertel die 89-jarige Marie du Plessis van Goue Jare.
In 19 jaar het sy 13 produksies en Kerssangdienste daar die lig laat sien met haar besondere talent om films in verhoogproduksies te verwerk. Vir elke produksie het sy self die spelers afgerig, en was sy ook verantwoordelik vir die uitstaande produksie, Mamma Mia wat in Parys aangebied is,
Die produksie was die eindresultaat van die Kuier, Klets en Kielie-groep wat vroeër vanjaar Solidariteit Helpende Hand se Senior Mind Moves program vir 20 weke gevolg het.
Met dié program is seniors bemagtig met oefening van die vyf sintuie waarvan van die oefeninge in die produksie ingesluit is.
Die gehoor se meelewing het die akteurs in hul element gehad en hoe harder die applous, hoe gemakliker het die woorde en toneelspel gevloei soos wat die liefdesverhaal van Sophie en Sky afgespeel het, en uiteindelik geeïndig het met ‘n kinkel op die huweliksdag.
Marie is sedert 2022 ‘n Parysenaar. Sy vertel dat daar tydens die Mind Moves-program waarby sy ingeskakel het, vir elkeen gevra is waarvoor mense hulle sal onthou.
Met die vertel van haar huiskonserte in Kokanje, het die gedagte om Mamma Mia ook hier op die planke te bring, gekom, en was haar passie vir toneel aansteeklik.
Marie het van jongs af die kuns van raakvat geleer met haar ouers wat besigheidseienaars was. Later het sy self haar eie sakeondernemings gehad – van ‘n klere boutique tot ‘n droogskoonmakery, spysenier-onderneming en skoolklere-winkel.
Sy is een wat daarvan hou om goed mooi te maak, vertel sy, en voeg by dat ‘n feit van die lewe is hoe ouer jy word, hoe minder belangrik word jy.
Dit het sy ook gesien in Kokanje. “As jy nie meer by die hoofgebou van die aftreeoord betrokke kon wees nie, vereensaam jy en daarom moet jy besig bly.”
Sy het op vele komitees gedien en dit selfs reggekry om in net vyf weke twee verskillende konserte te kon aanbied.
“Vir die konserte werk ek altyd met mense wat nog nooit voorheen akteurs was nie,” vertel sy.
“Twee van die spelers in die Mamma Mia-produksie was van Fochville en het alreeds gevra dat die produksie volgende jaar ook in Fochville aangebied moet word,” sê sy.
“My kop sê nie ek word oud nie, maar my liggaam begin al ‘n bietjie sê,” lag sy.
Sy’t nog baie planne vir die verhoog, maar vir nou maak sy gereed vir ‘n vyf weke reis na Brazilië om by haar seun te gaan kuier in Maart.
Tot onlangs toe het sy ook nog alleen die langpad aangedurf Nelspruit en Kokanje toe.
“Maar my motor is nou so oud soos ek,” lag sy.