Kragmeters: Spertyd nie verleng maar Eskom-klante so gehelp
Nasionaal het Eskom daarin geslaag om voor die sperdatum meer as 5.48m kragmeters te herkodeer, terwyl 1.4m nie geherkodeer is nie, het Eskom Maandag by navraag bevestig.
Eskom voorsien dat die herkodering van voorafbetaalde kragmeters ‘n beduidende verskil sal maak om onwettige kragverbruik te stop. Spertyd vir die herkodering van voorafbetaalde kragmeters het Sondagaand, 24 November uitgeloop met die huidige TID-kode (Token Identifier) wat verval het, en STS-meters (Standard Transfer Specification Compliant Meter) wat gevolglik nie meer elektrisiteitskoepon-kodes sal aanvaar, mits die meter geherkodeer is.
Nasionaal het Eskom daarin geslaag om voor die sperdatum meer as 5.48m kragmeters te herkodeer, terwyl 1.4m nie geherkodeer is nie, het Eskom Maandag by navraag bevestig.
Die munisipale bestuurder vir die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit, Dr. Mothamaha, het ook Maandag bevestig dat altesaam 95.3% van die munispaliteit se kliënte se voorafbetaalde meters teen 24 November geherkodeer is. Op die vooraand van die sperdatum is tussen 23 en 24 November alleen 274 meters in dié munisipale gebied geherkodeer.
Eskom het Maandag ook bevestig dat daar goeie nuus is vir sy direkte klante wat die sperdatum gemis het. Die kragreus kon daarin slaag om voor die spertyd in grootmaat die herkodering-koeponne te genereer. Eskom-klante wie se meters dus nie voor die spertyd geherkodeer is nie, kan die Eskom-inbelsentrum skakel by 08600 37566 vir hulp met herkodering van dié meters.
“Indien daar gevind word dat die klant ‘n onwettige verbruiker was, sal die meter vervang moet word en die verwante voorgeskrewe fooie betaalbaar wees,” het Eskom gesê.
“Indien mense by onwettige kraghandelaars krag sou koop, sal die meters nie die elektrisiteitkoepon aanvaar nie,” het Eskom verder gesê.
Inwoners van Ngwathe wat steeds vrae het oor voorafbetaalde kragmeters kan die munisipale kantore besoek, of skakel 060 534 3900.
Dr Mothamaha het daarop gewys dat gebrugde, foutiewe en beskadigde meters wat nie herstel kan word nie, vervang sal moet word en waar boetes van toepassing is, tariewe wat deur die raad goedgekeur is, gehef sal word.
Voorafbetaalde kragmeters kan by die munisipaliteit gekoop word en kostes wissel tussen R1 000 en R2 500 het dr. Mothamaha gesê.
Raadslede met wie Gazette vandeesweek gepraat het, het gesê dat hulle egter nog geen klagtes die week gehad het van mense wat sukkel met die insleutel van kragkoeponne nie.