Drie lande kom wys ruitervernuf in Parys
Die Wêreldbeker-kompetisie volg net na die Parys Kers Saalperd streekskou wat hierdie Saterdag ten einde loop.
‘n Span van agt vernuftige jong ruiters sal Suid-Afrika by die Wêreldbeker Ruiterkuns-kompetisie verteenwoordig, wanneer dié span se ruitervaardighede getoets word teen dié van die Amerikaanse en Kanadese spanne. “Die Wêreldbeker-kragmeting is op 12 en 13 Desember by die AfriDome in Parys, en kan gratis deur die publiek bygewoon word tussen 08:00 en 14:00 op dié twee dae,” sê Bertus Pretorius, nasionale president van Ruiterkuns in Suid-Afrika. Pretorius sê ses ruiters verteenwoordig hul onderskeie lande in elk van die afdelings. Die driegang en vyfgang kompetisies word om 08:00 en 11:00 onderskeidelik op die twee dae gehou.
Op dag twee van die kompetisie word daar perde geruil met soort-gelyke kompetisie in die twee afdelings. Die wenners word aangekondig tydens ‘n gala-funksie die Vrydagaand.
Pretorius sê met die kompetisie word gefokus op die vaardigheid van ruiters om die perde te vertoon met die klem op die ruiter se postuur en vermoë om te ry. Hy verduidelik dat ruiterkuns nie tot ‘n bepaalde perderas beperk is nie, hoewel saalperde, boerperde en Friesperde meestal die kern van ruiterkuns vorm.
Die Suid-Afrikaanse ruiters wat deelneem is almal o18. Vir die driegang-kompetisie sal Junika Hugo, Izabella Klein, Marzaan Visser, Megan Schnebel, Minke Hugo en Korine Joubert Suid-Afrika verteenwoordig.
Izabella Klein, Junika Hugo, Minke Hugo, Tiaan Fourie, Marzaan Visser en Jemma Orsmond sal aan die vyfgang-kompetisie vir SA deelneem. Hul afrigter is Sumeri Botha en die spanbestuurder Mareza Visser.
Twaalf ruiters verteenwoordig die Amerikaanse span, en ses ruiters die Kanadese span. Die Kanadese span bestaan uit Khennedy Leubner, Georgina Sanche, Ava Rusinko, Kiara Crossley, Marissa Bieleny en Marlee Simon. Hulle word afgerig deur Sandra Fenstad-Sanche met Jessica Pelissero as spanbestuurder.
Dié Wêreldbeker-kompetisie word elke twee jaar aangebied en roteer tussen die deelnemende lande.
“Daar is ‘n restaurant op die perseel beskikbaar en mense is welkom om na die uitsonderlike ruiterkuns van die deelnemende spanne te kom kyk,” het Pretorius gesê.
Die Wêreldbeker-kompetisie volg net na die Parys Kers Saalperd streekskou wat hierdie Saterdag ten einde loop.