Local newsNews

Sopkombuis se deure oop vir dié wat minder het

Dankie vir elkeen wat die naweek bygedra het tot die Food Drive.

Janine Conway se droom was nog altyd om haar eie sopkombuis te begin, maar sy het nooit die finansiële ondersteuning gehad om dié droom te kon verwesenlik nie.

Toe kom die Covid-19 pandemie. Skielik moes daar oral planne gemaak word in gemeenskappe. Mense het hul werk verloor, ander se inkomste is gesny. Nood het oral aan deure geklop. ‘n Nood waarin Janine kon voorsien danksy die hulp van boere en die gemeenskap van die Vredefort-distrik.
Op 4 April 2020 begin sy die sopkombuis en kospakkie-projek en het vier dankbare gesinne elk ‘n kospakkie ontvang. Getalle het begin groei en vandag sorg Janine steeds met die hulp van ‘n omgee-gemeenskap vir daardie maaltyd en kospakkie vir diegene wat swaar trek.

Om net minstens een voedsame maaltyd in ‘n week te kan voorsien vir hulle in nood, is die missie van Janine se sopkombuis. Maar vir haar gaan dit om veel meer as om honger te stil. Sy glo mense wat by haar kom aanklop, moet met waardigheid gehelp word. “Hulle moet voel hulle behoort.”

By haar sopkombuis word niemand weggewys nie. Die voortbestaan van die sopkombuis en kospakkie-projek is egter totaal afhanklik van ondersteuning uit die gemeenskap. Sy het die afgelope naweek ‘n Food Drive in Parys gehou waar mense kon bydra vir die 95 mense wat ook oor die feestyd deur Janine se sopkombuis gehelp sal word.

Janine Coway (links) tydens Saterdag se Food Drive in Parys ten bate van haar sopkombuis waarmee sy mense help wat minder het.

As jy ‘n bydrae wil maak om die nood van ander op dié manier te help verlig, kan jy Janine by 082 097 6330 skakel.

Dankie vir elkeen wat die naweek bygedra het tot die Food Drive.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button