Geliefde oom Willie gegroet
Oom Willie het oor jare diep spore in die gemeenskap van Parys getrap.
‘n Jarelange en baie geliefde inwoner van Parys, Willie Hoffmann, het Woensdagnag sy stryd teen kanker verloor. Hy was 83 en is die laaste tyd by Najaarsrus versorg.
Oom Willie het oor jare diep spore in die gemeenskap van Parys getrap.
Hy was onder meer vir 50 jaar diaken by die NG Wes-gemeente, en het op 28 Julie ‘n sertifikaat vir 50 jaar van diensbaarheid ontvang.
Vir oom Willie was dit ‘n spesiale dag en het hy na die ontvangs van die sertifikaat in ‘n onderhoud met Gazette dit as die moosite dag van sy lewe beskryf. “‘n Lieflike mylpaal om te bereik.”
Maar dit was nie die enigste mylpaal wat hy behaal het nie. Oom Willie het vir oor die 60 jaar fiets gery en altesaam 102 medaljes daarvoor verwerf. Hy het ook vir om en by 50 jaar lank gedraf en 105 medaljes daarvoor ontvang.
Lidmate van sy wyk sal hom altyd onthou as die diaken wat met sy fiets by hulle aangeklop het.
Oom Willie is in Brakpan gebore en het daar grootgeword. Hy het in 1968 na Parys verhuis en het vir 20 jaar by National Bolts as ketelmaker gewerk. In die 20 jaar wat hy by National Bolts gewerk het, het hy net drie dae afgevat toe hy siek was met griep. Hy was eenvoudig nie iemand wat gerus het nie. Sy hande was altyd besig.
Na sy dienstyd by National Bolts het hy vir 16 jaar ook by Staycold gewerk.
In 1974 koop hy die huis oorkant die Wes-kerk en begin as diaken diens lewer in die gemeente.
Oom Willie was vir 40 jaar getroud. Sy vrou is 19 jaar gelede oorlede en het hy ook sy seun aan die dood moes afstaan.
Hy het voor sy dood ‘n tyd by sy dogter in Bloemfontein gebly voordat hy teruggekom het Najaarsrus toe.
Vir hom was sy gunsteling ding van Parys die skoon, vars lug. “Ek onthou toe ek hierheen getrek het, was dit alles nog grond strate. Die teerpaaie het eers heelwat later gekom. Ek is dankbaar vir alles wat ek kon bereik. Al die harde werk. Dit is alles net krag en genade van die Here af,” het hy in Augustus tydens die onderhoud met hom gesê.
Oom Willie sal vir oulaas gegroet word tydens ‘n gedenkdiens Vrydag 20 Desember om 11:00 by Najaarsrus.