Parys se geskiedkundige hangbrug nou gesluit vir voetgangers
Moet asseblief nie oor die brug loop nie - dit is onveilig.

Parys se geskiedkundige staalhangbrug oor die Vaalrivier is tans gesluit vir voetgangers nadat vanoggend ontdek is dat een van die brugkabels met verloop van tyd verweer en gebreek het.
Dit is daarom nie veilig vir mense om oor die brug te beweeg nie.


Versperrringsbande is by die brug aangebring om mense te waarsku om nie op die brug te loop nie, en word mense gevra om asseblief ter gehoor te gee aan die waarskuwing.


Die brug is al vir jare een van die dorp se grootste toerisme aantreklikhede, en het ‘n handvol vrywilligers verlede jaar ‘n grootskaalse projek aangepak om die brug oor te verf, die gehawende draad weerskante van die loopvlak van die brug te vervang, die rivieroewer skoon te maak, skade te herstel aan die oewerwal, te plavei om die brug, en selfs die straatname op die sypaadjies in die omgewing van die hangbrug netjies oor te doen. Daarbenewens is ‘n fotoraam spesiaal vir toeriste hier aangebring asook die Mür de Souveniers waar mense ‘n slot kan hang om ‘n besoek aan die brug ekstra spesiaal te kon maak.
Hangbrug
Die hangbrug na Gholfeiland is in 1918 gebou en in 1919 ingewy.
Die brug is gebou van draad en staal met kabels waaraan 3 “spanne” hang, een hoof ‘span’ en 2 sy ‘spanne’.
Die enkel-hangbrug verbind die dorp met Golfeiland en het die eiland spoedig ook as Hangeiland bekend geraak.
Voetgangers het destyds oor hierdie hangbrug na die eiland gestap en heerlike piekniektye en ontspantye is op die eiland deurgebring. Toegang na die eiland via die brug word egter al vir jare nie toegelaat nie.



