VS munisipaliteite verloor minstens R3 miljard se water
Talle Vrystaatse dorpe was gedurende die feestyd sonder water weens infrastruktuur wat in die afgelope 30 jaar nie in stand gehou of opgeknap is nie.

Minstens R3 miljard se skoon water is die afgelope vyf jaar weens lekkasies en onwettige koppelings in Vrystaatse munisipaliteite gemors.
Die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Saki Mokoena, het in antwoord op ‘n vraag van die VF Plus in die Vrystaatse wetgewer die syfers onthul.
Talle Vrystaatse dorpe was gedurende die feestyd sonder water weens infrastruktuur wat in die afgelope 30 jaar nie in stand gehou of opgeknap is nie.
Die VF Plus sê hy vind dit vreemd dat die LUR se antwoord nie die Mangaung-metro se waterverliese insluit nie en sal in ‘n opvolgvraag daarop aandring dat die metro se syfers ook bekendgemaak moet word.
Volgens die partye se berekeninge kan Mangaung se verliese soveel as R1,6 miljard in dié tydperk beloop. Die ander groot sondebok met waterverliese is Matjhabeng, wat in die vyf jaar meer as R1,8 miljard se skoon water verloor het.
Beide munisipaliteite kon met die vermorsing elkeen ten minste een splinternuwe watersuiweringsaanleg gebou het en boonop hul astronomiese skuld aan die Vaal Sentraal-waterraad begin afbetaal het, sê die party.
Sommige munisipaliteite het ook vir sekere jare nie finansiële state, waar verliese gemeld word, ingedien nie. Dit beteken dat die verliese aansienlik meer sal wees.



