Borg geweier vir verdagte na moord op wildsplaasbestuurder
Die twee Mboniswa-mans word aangekla vir moord, huisbraak, motordiefstal, die besit van vermoedelik gesteelde goedere, die onwettige besit van vuurwapens, en onwettige besit van ammunisie.

Streeklanddros Shakeng Phillip Kutumela het Maandag in die Potchefstroomse landdroshof borgtog geweier aan een van die verdagtes wat aangekla is vir die moord op die 32-jarige Ian Boshoff.
Boshoff wat as wildsplaasbestuurder by die Snymanshof Lodge in die Buffelshoek-omgewing tussen Potchefstroom en Parys gewerk het, is op 25 Oktober tydens ‘n rooftog in sy huis doodgeskiet.
William Johnson Mboniswa sal in aanhouding bly tot sy volgende hofverskyning.
Sy medebeskuldigde, Phafelo Israel Mboniswa, het nie aansoek om borgtog gedoen nie.
“Die twee is saam met ‘n derde verdagte op 7 November in die Ikageng-nedersetting in verband met die moord in hegtenis geneem.
Die saak teen die derde verdagte is egter teruggetrek weens ‘n gebrek aan bewyse,” het Sive Gunya, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag vroeër gesê.
In die hof is gehoor dat die Mboniswa-mans oënskynlik familie is. Met hul arrestasie is van die items by hulle gekry wat by Boshoff gesteel is, waaronder sy vuurwapens, asook ‘n vuurwapen wat in ‘n rooftog in Julie 2024 gesteel is.
Die hof het in die borgaansoek getuienis gehoor dat William en sy medebeskuldigde ‘n dag na die moord by ‘n huis in Ikageng aangekom het met Boshoff se gesteelde Land Cruiser.
Die twee Mboniswa-mans word aangekla vir moord, huisbraak, motordiefstal, die besit van vermoedelik gesteelde goedere, die onwettige besit van vuurwapens, en onwettige besit van ammunisie.