Oudleerder nou deel van navorsingspan
Hy het nooit verwag dat so 'n groot geleentheid oor sy pad sou kom nie - "ek is bevoorreg," sê die jongman
“Ek gaan alles en almal hier mis, en natuurlik die rooivleis en my vriende, maar hierdie is ‘n groot geleentheid en eer om deel te wees van die navorsingspan van die Dublin Institute of Advanced Studies (DIAS).”
So gesels Herman le Roux, ‘n oudskolier van Parys wat Dinsdag na Dublin, Ierland, vertrek het waar hy vir die volgende vier jaar by die navorsingspan van DIAS sal aansluit vir sy PhD-studie in spesifiek die klassifisering en navorsing van solarkenmerke van die son met die gebruik van masjienleer.
Die navorsing fokus op hoe die verskillende fenomene van die son inskakel by onder meer netwerkstelsels, die internetbedryf, kragstelsels en selfs die effek daarvan op waterpype.
Herman het reeds sy B.Sc Inligtingstegnologie graad, ‘n honneursgraad in rekenaarwetenskap en inligtingstegnologie, en meestersgraad in rekenaarwetenskap agter sy naam wat hy aan die Noordwes Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus verwerf het.
Sy pad met die navorsingspan van DIAS het tydens sy meestersgraad gekruis toe hy ‘n navraag gehad het oor navorsing wat deur die instituut gedoen is in die veld van masjienleer en solareienskappe van die son. “Ek het daarna ‘n skoot in die donker gewaag en aan die einde van my meestersgraad kontak gemaak met die hoof van die instituut oor die moontlikheid om by die navorsingspan aan te sluit.” Na lang wag het die antwoord gekom, en is Herman aanvaar met ‘n beurs vir sy doktorale studie. Die instituut het ‘n vennootskap met die Technological University of the Shannon waardeur hy sy doktorsgraad sal ontvang.
Herman is vol lof vir sy studieleiers, prof. Gunther Drevin van die Skool vir Rekenaarwetenskappe en Inligtingstelsels, asook prof. Du Toit Strauss en Dr. Ruhann Steynn van die Sentrum vir Ruimte Navorsing by die NWU, vir die rol wat hulle in sy navorsing oor die onderwerp reeds in sy honneurs- en meestersgraadstudies gespeel het.
“Nou sien ek uit daarna om die spanlede te ontmoet en my navorsing voort te sit,” sê Herman.
Herman het vroeg al as student uitgestaan. In 2022 is hy deur die International Association for Development of the Information Society genooi na die negentiende International Conference on Applied Computing. Daar moes hy ‘n voorlegging doen oor die navorsings vir ‘n artikel wat hy in sy honneursjaar gedoen het oor neurale netwerke en die toepassing van kunsmatige intelligensie vir die klassifisering van uitbarstings op die son. Uit sy honneursstudiegroep van sowat 30 studente, is net drie studente deur die universiteit gevra om artikels te skryf vir die konferensie. Die artikels is deur drie onafhanklike professore van verskillende universiteite oor die wêreld nagesien.
Vir bykans ‘n jaar het Herman data versamel en navorsing gedoen oor dié onderwerp waaroor daar toe nog geen toepassingstelsel van kunsmatige intelligensie was om klassifisering van die sonuitbarstings te kon doen nie.
Herman verduidelik dat daar heelwat fisika beginsels in sy navorsing is, en hy hoofsaaklik op twee van die vyf tipes sonuitbarstings gefokus het. Die uitbarstings is gekoppel aan gebeurtenisse wat as sogenaamde sonvlamme beskryf word. Die sonvlamme en koronale massa-uitwerping gebeur gewoonlik as gevolg van ‘n proses wat magnetiese heraansluiting genoem word.
In 2023 is Herman uit 138 studente van meer as 60 universiteite uit 13 lande beloon met ‘n silwermedalje na sy deelname vir NWU aan die BRICS Skills Competition in China.
Hy was een van net vier studente van die NWU wat vir die eerste keer aan dié internasionale kompetisie deelgeneem het.
Herman vertel dat dit eintlik sy pa, Jan, was wat kleintyd sy belangstelling in die wêreld van rekenaars geprikkel het. Hy het tot matriek inligtingstegnologie as vak gehad en daarna B.Sc IT studeer. “Jy sal verbaas wees wat jy alles met ‘n rekenaar kan doen,” gesels Herman.

Hy het nooit verwag dat so ‘n groot geleentheid oor sy pad sou kom nie – “ek is bevoorreg,” sê die jongman vir wie die huweliksklokke ook onlangs gelui het. Sy vrou, Therese, is self ‘n slimkop wat haar graad het as geoktrooieerde rekenmeester, en ook ‘n honneursgraad in rekenaarwetenskap en inligtingstegnologie.
Die plan is dat Therese later by Herman sal aansluit in Ierland.
Wat hy die graagste in Ierland wil sien? Die ongerepte en asemrowende mooi van die Cliffs of Moher, sê hy dadelik, en dan wil hy ook tyd maak vir ‘n bietjie gholf en diepsee duik.
“As jy sewe jaar gelede toe ek begin swot het vir my gesê het ek sou nou op pad wees Ierland toe, sou ek dit nie geglo het nie, maar ek was soos ‘n hond wat ‘n kar gejaag het, en nou het ek hom gevang,” gesels die jong man wat die leer van sukses trappie vir trappie klim.



