‘Hy’t geveg tot die einde toe’
Ten spyte van 'n vyf jaar lange stryd teen kanker was Lourens nooit negatief nie. Hy het aanhou baklei teen die siekte vir sy gesin en almal wat hom liefgehad het.

Lourens van Riet, ‘n oudleerder en jarelange inwoner van Parys, is Donderdagaand na ‘n lang stryd teen kanker oorlede. Hy was 48 jaar oud. Sedert kanker vyf jaar gelede by hom gediagnoseer is, het Lourens baklei teen die siekte. ‘n Stryd wat hy tot die einde voluit gestry het.
Twee dae voor sy dood het ek hom gevra: “Baklei jy boeta?” Sy antwoord was: “Ek sal ‘fight’ tot die einde, daar’s nie tyd vir lê nie,” het hy sy broer geantwoord. “Lourens het oor die afgelope vyf jaar 67 chemo-behandelings gehad – en ons almal weet wat chemo aan ‘n mens doen maar hy het dit gedoen vir sy familie en almal rondom hom. My broer was ‘n ‘fighter.”
En dit is hoe Lourens onthou sal word – vir sy liefde vir sy gesin, sy oneindige veggees en wil om te lewe, sy humorsin en sy positiwiteit – selfs in moeilikste tye.
Lourens is gebore in Vanderbijlpark en was sedert 1985 in Parys gevestig. Hy het sy laer- en hoërskoolloopbaan in Parys voltooi, en was lief vir sport. Nie net het hy rugby gespeel en atletiek gedoen nie, maar ook op hoërskool gholf en skaak vir die skool gespeel.
Na skool voltooi hy sy ambag by Yskor (nou Mittal), waar hy hom as elektro-meganikus bekwaam. Daarna is hy na SARKO waar hy gewerk het totdat kanker by hom gediagnoseer is.

Hy en Nannie was 24 jaar getroud, en het hy ‘n besondere band met sy seuns, Zandré en Zuan, gehad.
Hy het sy gesin altyd eerste gestel en was ‘n betrokke pa wat daar was om hulle te ondersteun waar hy kon. Enkele dae voordat hy in die hospitaal opgeneem is, was hy nog langs die atletiekveld om Zuan in Pretoria te sien deelneem. “Hy was toe reeds baie swak,” vertel sy ma, Irma.
Lourens was nooit negatief nie, Selfs in moeilike tye was hy die een wat ander raad gegee en bemoedig het.
Sy besondere sin vir humor en sy grappies het mense altyd aan die lag gehad.
Lourens sal met net die mooiste herinneringe deur Nannie, Zandré en Zuan, sy ma Irma, skoonouers, broers, Lennie en Eugene en hul gesinne, en sy swaer en gesin, asook sy vriendekring onthou word.