Local newsNews

Skok na VS polisiebeampte en drie ander sterf in tragiese skietvoorval

Die Onafhanklike Polisie Ondersoekdirektoraat sal die ondersoek na die voorval lei.

’n 47-Jarige polisielid, verbonde aan die Hennenman-polisiestasie as Landelike Veiligheidskoördineerder, het na bewering vanoggend, 7 Junie, vyf mense geskiet voordat hy sy eie geneem het.

Brigadier Thandi Mbambo, sê voorlopige inligting dui daarop dat die lid Saterdag om 16:00 vir diens aangemeld het en toe om 00:30 glo na Whittes Plot naby Hennenman gery het op soek na sy vriendin. Nadat hy haar nie kon opspoor nie, het hy en die vriendin se oom na ’n ander plek gegaan waar die oom aangedui het dat daar ’n byeenkoms plaasvind en verskeie familielede teenwoordig is.

Met hul aankoms by die plek, en nadat die lid meegedeel is dat sy vriendin nie daar was nie, het ’n argument glo ontstaan. Die lid het na bewering toe op die mense losgebrand.

Drie slagoffers waaronder die vriendin se ma, haar oom en die 25-jarige vrou – is op die toneel dood verklaar. Twee ander persone het skietwonde opgedoen. Een is na ’n plaaslike hospitaal vervoer vir mediese behandeling, terwyl die ander ’n skraapwond opgedoen het en op die toneel behandel is.

Daar word verder beweer dat die lid ná die skietery na sy voertuig teruggekeer het en homself geskiet het.

Die motief vir die voorval is tans onbekend en vorm deel van ’n voortgesette ondersoek, het Mbambo gesê.

Die polisiekommissaris van die Vrystaat, luitenant-generaal Thabang Lesia, het die voorval ten sterkste veroordeel en sy medelye met die families van die slagoffers uitgespreek.

“Dit is ’n uiters ontstellende en sinnelose voorval wat verskeie families verwoes het. Namens die Suid-Afrikaanse Polisiediens in die Vrystaat wil ek my innige meegevoel betuig aan die families en geliefdes van diegene wat hul lewens verloor het, en ek wens die beseerde slagoffers ’n spoedige herstel toe. Hoewel die omstandighede rondom hierdie tragedie nog ondersoek word, kan daar geen regverdiging vir sulke optrede wees nie. Die SAPD in die Vrystaat bly verbind tot aanspreeklikheid en die handhawing van die hoogste standaarde van professionaliteit, dissipline en integriteit onder sy lede,” het Lesia gesê.

Lesia het opdrag gegee dat ’n omvattende ondersoek na die omstandighede wat tot die voorval gelei het, gedoen word.

Sake van moord, poging tot moord en ’n geregtelike doodsondersoek sal deur die Onafhanklike Polisie Ondersoekdirektoraat (OPOD/IPID) geregistreer en ondersoek word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button