SMS lei tot ewige liefde
Corrie het met hul tweede ontmoeting die spesifieke rok aangehad en Johhny het net geweet.

‘n SMS wat hopeloos te laat deurgekom het, het vir Johnny (76) en Corrie Burger (78) van Parys tot ewige liefde gelei.
Johnny, wat al die jare in Pretoria gebly het, vertel geesdriftig hoe hy in 2008 tot bekering gekom het en sy getuienis op Kruiskyk, Radikaal gedeel het.
“My selfoonnommer was op die program uitgesaai vir mense wat my wou kontak vir gebede.”
Corrie, wat in Frankfort gebly het, het in daardie stadium sy nommer op die program gekry en gereeld vir hom SMS’e gestuur om gebede vir mense te vra.
Jare later, in 2011 het Corrie een middag omstreeks 14:00 weer vir Johnny ‘n SMS gestuur om gebed vir iemand te vra, maar die spesifieke SMS het eers om 04:00 die volgende môre by Johnny uitgekom.
“Ek het yskoud geword toe die SMS daardie tyd van die oggend deurkom. Ek het by myself gedink as iemand 04:00 in die môre ‘n SMS stuur, moet dit ernstig wees. Ek het haar toe gebel,” vertel Johnny.
In Frankfort, was Corrie daardie oggend wakker omdat sy, wat ‘n groot vrees vir vlermuise het, ‘n vlermuis insident by haar huis gehad het.
“Ek het in my kombuis gestaan nadat ek die vlermuis in my kamer toegemaak het, toe my foon daardie tyd van die môre lui. Ek was ‘n bietjie kwaai. Ek het vir hom gesê as hy die boodskap gelees het, sou hy gesien het die gebed is nie vir my nie en wie bel iemand 04:00 in die môre.”
Johnny het daarna weer vir Corrie gebel en gevra of hy by haar kan kom koffie drink wanneer hy saam met sy broer by die Vaaldam gaan visvang. Sy het gesê dit is reg.
“Ek het aangeneem hy het ‘n vrou, dit is hoekom ek ja gesê het. Ek was onder die indruk sy vrou kom saam. Ek was stom verbaas toe die groot man alleen uit die trokkie klim. Ek het van die balkon af vir hom gevra waar is sy vrou. Dit is toe wat hy sê hy het nie ‘n vrou nie.”
Die twee het saam met Corrie se kleinkinders op die balkon ontbyt geeët en van daar het die liefde geblom.
Johnny vertel toe hy destyds besluit het om ‘n pastoor te word, het hy gebid en vir die Here gesê as die Here wil hê moet ‘n pastoor word, moet die Here vir hom ‘n vrou gee wat hom sal ondersteun.
“Die Here het vir my gesê ek moet my oë toemaak en vir hom vertel wat ek sien, maar ek moet spesifiek wees.”
Hy het toe vir die Here vertel hoe hy ‘n vrou met sterk hande en rooi naels sien. Hy het ook spesifiek haar klere, ‘n grys rok met ‘n lang punt aan die een kant, gesien.
Met hulle tweede ontmoeting het sy een oggend daardie spesifieke rok aangehad en hy het net geweet. Die paartjie is nou al 12 jaar saam en 10 jaar getroud.



