Protes ontaard in plundery
Die ontevredenheid het gegaan oor gebrekkige munisipale dienslewering.

Wat veronderstel was om ’n vreedsame protesoptog vanuit Kgotsong te wees oor beweerde korrupte bedrywighede by die Nala Plaaslike Munisipaliteit, het gister (24 Februarie) vinnig in ’n plundery van winkels ontaard. AfriForum se leier van die Bothaville-buurtwag, Dolf Meyer, het Maandagoggend op ’n noodroep gereageer en die hulp van Vrystaat Landelike Beveiliging ingeroep om honderde kwaaddoeners te verjaag.
Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier-streek, sê daar was na raming sowat 300 tot 400 betogers teenwoordig om hul misnoeë oor gebrekkige dienslewering – glo weens korrupsie – uit te spreek. Die vreedsame betoging het egter vinnig ontaard, en is verskeie winkels beroof en enkele voertuie met klippe bestook. Onder die groep betogers was ook kinders.
Lede van die polisie se Openbare Orde Eenheid in Welkom was teenwoordig om die situasie te monitor.
“Alhoewel die gemeenskap van Kgotsong alle rede het om met die munisipaliteit ongelukkig te wees, is dit baie jammer dat hulle nie amptelik hul griewe aan die munisipaliteit oorhandig het nie, maar eerder onskuldige mense en ondernemings geteiken en skade aangedoen het. Dit is ook baie hartseer dat kinders, wat in die skool hoort, gebruik was om die plundery te bewerkstellig. AfriForum hoop nietemin dat munisipale amptenare ag sal slaan op hierdie hulpkreet,” sê Pretorius.



