Gemeenskap help weer met Vaal se hiasinte en waterslaai
Daar is groot dank vir wat die gemeenskap alreeds gedoen het om te help met die beheer van die krisis met dié indringerplante op die Vaalrivier.
Lede van die gemeenskap het die afgelope naweek hande gevat om waterslaai en hiasinte wat in die Vaalrivier afgespoel het nadat vyf keerlyne wat in die Taaibosspruit gespan was om die plaag te beheer, weens swaar reën en verhoogde watervloei van die Taaibosspruit gebreek het.
Volgens Andrew Surtees van Vaal River Rats South Africa is ‘n grootskaalse gemeenskapspoging verlede week begin om die moeilik hanteerbare kombers van hiasinte en waterslaai wat as gevolg hiervan in die Vaalrivier stroomaf gespoel het, by Duck Point Venue bymekaar te maak en uit te haal.
Die skoonmaakaksie sal binnekort afgehandel wees en keerlyne uitgehaal word. Die storting in die Taaibosspruit sal ook opgeruim word.

Vaal River Rats South Africa het oor die naweek opnuut ‘n beroep op oewereienaars en die gemeenskap gedoen om waar van die plante sou opdam, dit met nette te verwyder, en het die gemeenskap bedank vir die groot werk wat reeds gedoen is.



