Local newsNews

SAPD soek-en reddingspan geloof vir uitstaande werk na Heilbron-tragedie

Name van oorledenes bekendgemaak

Die Vrystaatse LUR vir gemeenskapsveiligheid, Paaie en Vervoer, Mr JNI Mbalula, het lede van die polisie se soek- en reddingspan geloof vir hul uitstaande werk op die toneel waar die liggame van agt mense gister uit ‘n stroom langs die Welgeluk-grondpad buite Heilbron gehaal is, na ‘n tragiese voorval toe die bakkie waarmee die oorledenes gery het, op die Kliprivier-laagwaterbrug meegesleur is.

‘n Een en sewentigjarige man, sy 62-jarige vrou,  hul drie kleinkinders,  asook ‘n 34-jarige man, sy 33-jarige vrou en die egpaar se 2-jarige dogtertjie was onder die oorledenes.

Die tragiese toneel waar agt mense die naweek buite Heilbron gesterf het.

LUR Mbalula het sy opregte medelye met die naasbestaandes betuig en polisielede geloof wat daarin kon slaag om die liggame van die oorledenes  binne 48 uur na die hartseer insident, te kon opspoor.

Polisiewoordvoerder kapt. Earle het gister gesê volgens die voorlopige ondersoek, het die oorledenes Saterdagmiddag vanaf Heilbron gery, maar nooit hul bestemming op ‘n plaas in die Heilbron-distrik bereik nie.

Hulle is Sondagaand as vermis aangemeld.

Die oupa en ouma en hul kleinkinders – ‘n 10-jarige en ‘n 12-jarige seun, asook ‘n 14-jarige dogter, en die ander egpaar en hul 2-jarige dogtertjie se liggame is in die stroom gekry, nadat die polisie met ‘n grootskaalse soektog begin het.

‘n Boer het Maandagoggend die voertuig  in die stroom opgemerk waarop soek-en-reddingshonde en hul hanteerders sowel as polisieduikers hul na die toneel gehaas het en met die uitgebreide soektog in die stroom begin is.

Die name van die oorledenes is intussen deur die polisie bekendgemaak. Hulle was mnr. Ditaba Isaac Mazibuko (71), sy vrou, Modiehi Elizabeth Mazibuko (62), hul kleinkinders Refilwe Jwalane Monyatsi (14), Luyanda Zengele (10), Sibusiso Brian Zengele (12), mnr. Mazibuko se kollega Patrick Mquega (34), sy vrou Nthabiseng Agnes Toba (33) en hul 2-jarige Omphile Angela Toba.

‘n Beroep is Dinsdag weer op die publiek gedoen om uiters versigtig te wees op paaie veral in reënweer wanneer daar die gevaar van vloede is, en om oorstroomde laagwaterbrue,  strome en riviere te vermy. Moenie deur snelvloeiende water probeer loop of ry nie omdat jy jou met die diepte en krag van die water kan misreken. Gebruik eerder alternatiewe roetes of wag tot die watervlak gesak het.  Hou ook weervoorspellings dop wanneer jy ‘n rit beplan. Verminder spoed en hou by groter volgafstande in reënweer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button