Local newsNews

Kommandowurms: Meeste nog in jare

Die kommandowurm kom meestal voor in grasveld en sommige savanne, en is dit 'n ernstige plaag veral in lande noord van Suid-Afrika.

Kommandowurm uitbrake is volgens die Gautengse Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling reeds in provinsies soos Gauteng, Mpumalanga, Limpopo, en KwaZulu Natal aangemeld, maar is enkele gevalle wes van Fochville in die Buffelsdoorn en Klipdrift-areas, asook ‘n geval in die Koppies-distrik en in die Vredefort Koepel volgens inligting bekend.
Die departement se woordvoerder, Danisile Sathekge, sê boere moet bedag wees hierop, en waar uitbrake sou voorkom, kontak maak met beamptes van DALRRD (migrerende plae).

Die nommers om te skakel is Me Voyokazi Jongwana by 060 7184357 of Mnr. Khuliso Gangashe by 067 4106 103. Dit is belangrik om wanneer boere infestasie aanmeld, die distrik/plaasnaam te gee, hoe groot die besmetting is (aantal hektaar), gewasse wat besmet is, en kontakbesonderhede van die grondeienaar.

Beesboere is ook gewaarku dat vergiftiging soms kan volg op ‘n besmetting. Dit is veral op Kikoejoegras aangeteken.
Simptome by beeste verskyn gewoonlik tien dae na die verskyning van die wurms, en slegs sommige kikoejoeweidings produseer hierdie toksisiteit. Simptome sluit in dat beeste se sluk verlam word, en groot ‘stringe’ waterige speeksel uit die mond kwyl. Aangetasde diere vertoon ook ‘n oënskylike erge dors met geringe simptome van opgeblasenheid en ‘n gekners van tande kan voorkom.

Sodra simptome gesien word, moet die diere van die geaffekteerde weiveld verwyder word, en die hulp van ‘n veearts gekry word.
Goeie voorkoming van verdere vergiftiging is die verwydering van alle diere uit die weiding vir ‘n tydperk van minstens 40 dae, sê die departement.

Die kommandowurm kom meestal voor in grasveld en sommige savanne, en is dit ‘n ernstige plaag veral in lande noord van Suid-Afrika.

In Suid-Afrika word klein uitbrake meestal in die hoë-reënval areas van Mpumalanga en KwaZulu-Natal gesien.
Die kommandowurm is die larwe van ‘n nagvlieënde-mot wat oor duisende kilometers migreer veral tydens die jare wat daar plaag uitbrake is. Die groot migrasie motvlugte begin vroeg aand en motte kan ‘n hoogte van tussen 300-1000m bo grondvlak bereik.
Motte beweeg windaf op lugstrome gewoonlik vanaf warmer, noordelike buurstate soos Zambië, Zimbabwe of Mozambiek na Suid-Afrika.

Die motte lê eiers in groepies van 100- 400 en ‘n enkele wyfie kan tot sowat 1000 eiers lê. Eiers broei binne drie tot ses dae uit afhangend van temperatuur en humiditeit. Die motte is bruin van kleur met wit agtervlerke en kenmerkende donkerder patrone aan die voorvlerke.

Die larwes word tot 25 mm lank, en is swart voor met groen/geel strepe oor die lengte van die lyf. ‘n Kenmerkende V-vormige merk kan gesien word op die kopkapsule.

Kommandowurm-infestasie. Foto’s: Verskaf

In groot getalle kan die kommandowurm aansienlike skade aanrig, en hou dit die grootste gevaar in vir grasspesies en aangeplante veeweiding, sê dr. Gerhard Verdoorn, direkteur van die Griffon Gifinligtingsentrum en konsultant vir die landbou-chemiese bedryf.
Verdoorn het aan die Middelburg Observer die uitbraak wat strek vanaf die Pretoria omgewing, Lydenburg (Mashishing) en Carolina tot in die suidste punt van Mpumalanga, Natal, en so ver as Kokstad. as seker die tweede grootste uitbraak beskryf wat hy in 30 jaar gesien het.

Uitbrake volg op die aanvang van nat seisoene wanneer droë grasvelde nuwe groei produseer en graangewasse geplant word.
Ruspes voed op die blare van graan en grasse en laat gate. Die volwasse ruspes val op die grond as hulle versteur word.
Om kommandowurm doeltreffend te beheer is dit belangrik om die larwes betyds te sien. As die larwes eers gesien word as hulle al amper uitgegroei is, is dit te laat om chemies te beheer omdat skade klaar aangerig is, en daar nie noodwendig ‘n tweede generasie sal wees nie. Waar larwes nog beweeg van een land na ‘n ander kan ‘n voor geploeg word waarin larwes vasgevang word en waar hulle dan toegeploeg kan word of chemies beheer kan word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button