Grietjie weeg toe ‘n verstommende 445kg
Die swaarstes van swaar pampoene het die naweek 'n gewigtige indruk by die Goliat van Gat-fees gemaak.
Die wenner van vanjaar se Goliat van Gat Pampoenfees is Cornelis Bester met sy pampoen, Grietjie, wat die skaal op ‘n verstommende 445 kg laat staan het. Die fees is Saterdag gehou.
Tweede was Lee-Ann van Zyl met haar pampoen van 360 kg, terwyl Jacky Smal en haar pampoen van 185 kg die derde plek behaal het.


Dit was ’n gesellige dag vol lekker eetgoed, iets te drinke en hope pret vir almal wat die groot pampoene kom bewonder het.
Die pampoengeregkompetisie was ook ’n sukses, met Ritha Combrink wat as wenner uit die stryd getree het met haar heerlike pampoensopgereg. Die eerste vyf wenners van die pampoengeregkompetisie het elk ’n kookklasprys gewen by Steyns Culinary School in Hatfield, Pretoria.
Die pampoendra-kompetisie het gesorg vir ’n paar swaar oomblikke toe deelnemers hulle bes gedoen het om die groot pampoene rond te dra, en die pitspoegkompetisie het die spoeg laat spat!
Die dag is afgesluit met die oorhandiging van pryse aan die wenners.

Foto’s: Verskaf



