Local newsNews

Kragkrisis raak erfenisbewaring by Voortrekkermonument

Vir elke dag sonder krag, wis ons weke se bewaringswerk uit sê Dawid Brand, die Voortrekkermonument se bedryfshoof van beeld en groei.

Die Voortrekkermonument is by ‘n kritieke kruispad wat nie net die Monument se funksionering en voortbestaan as een van die land se toerismebestemmings beïnvloed nie, maar dit raak ook die monument se kernbestaansideaal naamlik erfenisbewaring, sê Dawid Brand, die Voortrekkermonument se bedryfshoof van beeld en groei.

Volgens Brand het die grootskaalse ontwrigting van kabeldiefstal en wispelturige elektrisiteitsvoorsiening nie net ’n invloed op die duisende toeriste wat die Monument maandeliks besoek nie, maar word erfenisbewaring in die wiele gery.

“Ons Erfenissentrum, wat ’n reuse-argief en museumstoor huisves, kan nie met behulp van
kragopwekkers gerugsteun word nie. Dié sentrum, wat met ’n onvervangbaar duur lugsuiwerings-
en-verkoelingstelsel (wat miljoene kos en uit Duitsland ingevoer is) toegerus is, huisves artefakte en
dokumente wat oor dekades aan ons toevertrou is. Dié ruimte moet ingevolge internasionale
standaarde teen ’n bepaalde temperatuur en humiditeit gehou word.

“Vir elke dag sonder krag, wis ons weke se bewaringswerk uit,” sê hy.

Argiefstukke en artefakte in die Monument se bewaring sluit in 70 oorspronklike Moerdijk-tekeninge
van die Voortrekkermonument wat uit die 1930’s dateer en met die hand geteken is. “Dan is daar
dagboeke en briewe van mense uit Anglo-Boereoorlog-konsentrasiekampe en krygsgevangenekampe; Bybels met familie-stambome in; kledingstukke soos ’n kind se kappie, kompleet met bloed, wat in 1838 by Bloukrans om die lewe gebring is; ’n naaimasjien uit ’n  konsentrasiekamp in 1901; ’n assegaaipunt uit die Slag van Vegkop; ’n merkwaardige versameling Pierneef-skilderye; en historiese dokumente van onder andere die FAK en die ATKV.

“Ons praat nie van ’n klein ontwrigting nie. Reuse- ekonomiese enjins word tot stilstand geruk.
Gereelde kragonderbrekings en spanningwisselvalligheid het reeds groot skade aan toerusting soos
rekenaars, drukkers, yskaste, WiFi-toegang, tweerigtingradioverbindings, ons telefoonstelsel en
lugversorging aangerig.

“Mense besoek die Kultuurtuiste vir ’n wêreldklaservaring, vir funksies en feeste, en dís presies wat
ons bied. Al kry ons nie ’n sent van die staat nie. Ons oorleef net-net danksy toeriste, skenkings en
lojale  Vriende van die Monument wat maandeliks bydra,” sê hy.

Terwyl die departement van sport, kuns en kultuur met ’n reusebegroting van miljarde spog en die erfenisterreine en museums onder sy vlerk miljarde in skuld bly ophoop, steier die Voortrekkermonument en Natuurreservaat in Pretoria sonder ’n sent staatshulp onder swak dienslewering, kragonderbrekings en kabeldiefstal.

Die departement van sport, kuns en kultuur het aldus die nasionale tesourie ’n vet beursie van R6,3
miljard vir die 2025/26-boekjaar. Van dié bedrag is byna R2,8 miljard vir erfenisbevordering en –
bewaring geoormerk.

“Vryheidspark, wat onder die einste departement val en net ’n hanetree van die
Voortrekkermonument geleë is, het die afgelope vyf jaar skuld van R1,5 miljard opgehoop. Nóg ’n
groep wat onder dié departement val, die Ditsong-museums, wat onder andere Paul Kruger se huis
en die Sammy Marks-museum in Pretoria ‘bestuur’, het die afgelope paar jaar skuld ter waarde van
R42 miljoen opgegaar,” sê Brand.

Die departement van sport, kuns en kultuur, die Tshwane-munisipaliteit én die plaaslike regering
laat die Monument in die steek, meen Brand, en sê miljoene moet vir munisipale dienslewering betaal word, terwyl
iets soos vullisverwydering,  eenvoudig glad nie plaasvind nie maar ten duurste gefaktureer word. “Benewens die astronomiese dieselrekening van meer as R10 000 per dag, moet ons groot kragopwekker ná elke 100 bedryfsure teen ’n koste van R7 500 gediens word.”

Die  Voortrekkermonument het nou ’n projek Gee ons krag geloods, en is een van die langtermynoplossings ’n sonkragprojek wat sowat R7 miljoen gaan kos.

Volg die skakel https://vtm.org.za/gee-ons-krag-projek/  as jy n bydrae wil maak.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button