‘Dit gaan daaroor om deel te wees van iets groter as jyself’
Om 'n blywende nalatenskap agter te laat, en nie net vandag iewers 'n verskil te maak nie. Dit is waarin die Golden Triangle Chamber of Commerce (GTCoC) se nuut gekose president, Carla de Villiers-Malan glo.

Carla is ‘n Parysenaar in murg en been. Dit is dié dorp se rustigheid wat haar sowat vyftien jaar gelede laat besluit het om hier wortels te anker. Omdat sy en haar man, Gert, albei in ‘n stedelike omgewing werk, is dit die pad Parys toe waar hul asem skep na ‘n lang dag. Waar hulle kom lafenis soek in die plattelandse hartlikheid wat jou gemaklik omhels. Waar hul kinders in kleiner skole kan skoolgaan, en hul deel kan wees van ‘n klein gemeenskap, gesels Carla, wat ook sentrumbestuurder van River Square in Drie Riviere is.
Voordat sy River Square toe is, was sy 17 jaar bemarkingsbestuurder by Vaal Mall, waar sy by verskeie gemeenskapsprojekte in die Vaaldriehoek betrokke was.
As GTCoC president, het sy die leisels by Jaco Verwey oorgeneem, en wil sy voortbou op die sukses wat reeds deur dié sakekamer met sy 200 lede behaal is.
Die GTCoC skep ‘n verenigde stem waar dit kom by munisipale kwessies, wat ook in die Vaaldriehoek, soos Parys ‘n kwessie is veral wat betref infrastruktuur, sê sy. Daarbenewens is hul oogmerk om hul ledetal te laat groei, en netwerk-geleenthede vir hul lede te skep.
Vanjaar pak die GTCoC vir die tweede jaar agtereenvolgens die Rocking the Vaal inisiatief aan. Die feestelikheid word op 29 Maart by die Emerald Resort & Casino aangebied.
Soos verlede jaar gaan die Vaaldriehoek poog om die rekords te laat spat – dié keer vir die langste kebab en die grootste pot pap wat gemaak moet word. “Ons hoop om 12 000 mense wat minder het, die dag te bederf met ‘n heerlike ete,” vertel Carla.
Maar dit is nie net die Vaaldrioehoek wat baat by ‘n welwillendheids-inisiatief soos hierdie nie, sê Carla. Die Vaalrivier verbind Parys met die Vaaldriehoek, en is daar ‘n ongelooflike ‘synargy’ tussen die twee dorpe veral as dit by toerisme kom, sê sy.
Verlede jaar het Parysenaars ook die hekel- en breipenne nadergetrek vir die langste serp wêreldrekordpoging by Rocking the Vaal, en is van die serpe wat ingesamel is, weer in die gemeenskap van Parys versprei waar nood was.
“As ons hande vat, maak dit ons sterker, en daarom moet gemeenskappe mekaar ondersteun,” glo Carla.
“Ons skree so hard oor alles wat fout is – van waterslaai en hiasinte, tot riool en watervoorsiening, en vergeet dikwels wat dit aan ons toerismebedryf doen. Dorpe in ons land worstel met dieselfde probleme, maar kan ons mekaar help om in ons gemeenskappe ‘n verskil te maak.
Al is daar vele uitdagings, ook in die Vaaldriehoek, glo sy dat n sakekamer in elke dorp ‘n belangrike rol speel. ‘n Sakekamer werk wanneer sy bestuurspan een gemeenskaplike doel het. Almal moet inkoop in die droom – en dit is wat sy as president van die GTCoC wil sien – ‘n verskil in die gemeenskap wat dié sakekamer dien. “n Work of heart”, noem sy dit.
Of sy ooit sal wegtrek uit Parys? Nie sommer nie. Die dorpie het ‘n resiliance – niks kry die gemeenskap onder nie. Daar word altyd plan gemaak, sê sy en verwys trots na die werk wat die nie-winsgewende organisasie Mooi Parys doen om die dorp skoon te hou.
Wanneer sy nie in die Vaaldriehoek aan die werk is nie, is dit Parys se rustigheid en die natuur waar Carla en haar gesin, tyd laat stilstaan. Of dit op ‘n fiets op die Vredefort Koepel se grondpaaie is, of by dié dorp se Deo Gloria-koor waar sy haar passie vir koorsang uitleef – Parys is en sal altyd ‘n deel wees van dié formidabele vrou se hartklop.