21 vas na geweld in Bothaville
Die polisie se openbare orde eenheid monitor steeds die situasie in Bothaville.

Een en twintig mense waaronder ook ‘n 17-jarige is deur die polisie in hegtenis geneem vir openbare geweld na protesoptrede in die Khotsong-woonbuurt by Bothaville. Skole in Bothaville is ook steeds gesluit, sê polisiewoordvoerder sers. Phalesa Thabana.
Sers. Thabana het bevestig dat die persone wat gearresteer is, volgens inligting deel was van ‘n groep ontevrede gemeenskapslede wat Woensdag na die Nala munisipale kantore in Bothaville beweeg het waar hulle ‘n memorandum wou oorhandig, nadat ‘n vergadering met die gemeenskap Vrydag gekanselleer is.
Die onwettige protesoptrede gaan oor bewerings van korrupsie binne die Nala Munisipaliteit is verneem. Saki Mokoena, Vrystaatse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake was op 2 Maart in Bothaville om na inwoners se griewe te luister, maar is terugvoer nog nie deur die gemeenskap ontvang nie, sê hulle.
Benewens die ontwrigting van skole is paaie in Khotsong ook deur die groep ontevredenes met klippe toegepak en eiendom beskadig.
Twintig van die gearresteerders is steeds in polisie aanhouding, terwyl die minderjarige kind in ouersorg vrygelaat is.
Klagtes teen die gearresteerdeers sluit in openbare geweld, dwarsboming van die gereg, skade aan noodsaaklike infrastruktuur en opsetlike beskadiging van eiendom.
Die gearresteerders sal Maandag voor die Bothaville landdroshof verskyn het sers. Thabana gesê.