Kragskuld: Eskom gee finale besluit oor VS munisipaliteite na kennisgewings
Eskom sê hy bly daartoe verbind om met munisipaliteite saam te werk om volhoubare oplossing te probeer vind alvorens ontkoppeling gebeur, wat slegs as laaste uitweg gesien word, en duur onderhandelings voort.

Eskom het vanmiddag in ‘n amptelike verklaring sy finale besluit bekend gemaak dat voorgenome ontkoppeling van grootmaat kragvoorsiening aan die Vrystaatse munisipaliteite wat die kragreus enorme bedrae skuld en waaroor publlieke kennisgewings in die munisipale gebiede vroeër geplaas is, eers op ys gehou word terwyl gesprekke oor verspreidingsagentskapooreenkomste voortduur.
Eskom sê hy werk aktief saam met Vrystaatse munispaliteite wat in gebreke bly om hul uitstaande skuld aan die kragreus te betaal na ingryping deur die Minister van Elektrisiteit en Energie (MoEE), dr Kgosientsho Ramokgopa, op 17 Februarie. Die inisiatief poog om volhoubare oplossings vir munisipaliteite te vind wat elektrisiteitsverwante finansiële probleme ondervind.
Minister Ramokgopa het tydens ‘n vergadering in Bloemfontein finansieel benoude munisipaliteite aangemoedig om by Eskom betrokke te raak in onderhandelinge, en te oorweeg om aktiewe vennootskapooreenkomste te onderteken wat kan lei tot verspreidingsagentskapooreenkomste.
Die samesprekings met die minister het gevolg nadat Eskom publieke kennisgewings geplaas het vir die Ngwathe munisipaliteit sowel as die Nala, Moqhaka, Masilonyana en Nketoana Plaaslike Munisipaliteitei oor sy voorgenome aksie weens die munispaliteite se volgehoue wanbetaling sou daar nie gehoor gegee word vir betaling nie. Daar was toe geleentheid gegee vir publieke insette en kommentaar waarvan die sperdatum verlede week verstryk het.
Die publieke kennisgewings was soortgelyk aan ‘n kennisgewing wat ook op 29 Januarie vir die Mantsopa Plaaslike Munisipaliteit gepubliseer is in ooreenstemming met die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid (PAJA).
Die inisiatief waaroor die minister in Februarie met die wanbetalende munisipaliteite na die kennisgewings in gesprek getree het, is ontwerp om munisipaliteite te help om hul dienslewering te verbeter deur Eskom se kundigheid in ingenieurswese, en inkomste invordering en finansiële bestuur, te benut. Eskom sê hy het met onlangse verspreidingsagentskapooreenkomste gesien hoe dit daartoe kan bydra om elektrisiteitsverliese te bekamp, munisipaliteite se skuldgroeikoers te verminder, en beide diensgehalte en betalingsvlakke te verbeter.
‘n Verspreidingsagentskapooreenkoms is ’n langtermynkontrak wat munisipaliteite met Eskom kan aangaan. Deur hierdie ooreenkomste verskaf Eskom verskeie dienste om die tegniese en finansiële kapasiteit van munisipaliteite te verbeter, om die volhoubaarheid van elektrisiteitsvoorsiening te verseker.
Eskom verduidelik ook dat hierdie dienste vaardigheidsontwikkeling en opleiding, meterinstallasie of vervanging, en inkomste-invordering namens munisipaliteite, insluit.
Om onderhandelinge verder aan te moedig, het Eskom 11 munisipaliteite in die provinsie formeel genooi om aan besprekings deel te neem.
Hierbenewens het die departementshoof van die Vrystaatse Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (COGTA), mnr. Tshepiso Ramakarane, met Eskom en die ses munisipaliteite waarvoor kennisgewings gepubliseeer is in gesprek getree om die belangrikheid te beklemtoon daarvan dat oplossings gevind moet word wat vir al die betrokke partye voordelig sal wees.
Eskom stel dit duidelik in die verklaring dat sy voorgenome aksie van ontkoppeling van grootmaat elektrisiteitsvoorsiening aan die genoemde munisipaliteite soos uiteengesit in die publieke kennisgewings op ys (on hold) sal bly terwyl samesprekings voortduur.
Eskom sê ook hy bly daartoe verbind om met munisipaliteite saam te werk om volhoubare oplossing te probeer vind alvorens ontkoppeling gebeur, wat slegs as laaste uitweg gesien word.
Daar is egter ook weer gesê dat munisipale skuld aan Eskom een van die kragreus se grootste uitdagings is en dat die invordering van munisipaliteite se skuld aan Eskom ‘n fokus bly vir die handhawing en versterking van elektrisiteitsvoorsiening, die bevordering van sosio-ekonomiese groei, en om die behoefte aan intervensies soos beurtkrag te verminder.



