Gewilde radio-omroeper se goue stem stil
Ons opregte medelye met sy vrou, Amanda, en sy familie.
Die gewilde en bekende Vaaldriehoekse radio-omroeper, Marius Dreyer, is oorlede.
Die hartseer nuus is vanoggend deur die radiostasie VCR bevestig met die woorde: “Ons harte is seer en ons sal nie net sy stem nie, maar sy vriendskap en die warmte wat hy na die lug gebring het, baie mis. Sy bydrae tot 90.6 FM (VCR) sedert 1998 en die mense rondom hom sal vir altyd onthou word. Ons wil ons diepste medelye aan sy vrou, Amanda, sy familie en vriende oordra. Mag julle krag en vrede vind in die herinneringe wat julle saam gedeel het.”
Marius is in Potchefstroom gebore en het aan die Hoër Volkskool gematrikuleer. Sy radio-loopbaan het aan die einde van sy twee jaar diensplig begin, aanvanklik as klankman by die SAUK en daarna by Radio Hoëveld.
Sy betrokkenheid by die Vaaldriehoek se plaaslike radiostasie het gekom toe hy op ‘n dag deur die Vaaldriehoek gery het en gehoor het dat daar ‘n pos vakant is as omroeper by die radiostasie. Vir jare het Vaaldriehoekers sy bekende stem oor die lug gehoor. Sy Top 30 program op Sondaemiddae, Ken jou Kunstenaar en Morning Mix@6 is van die radioprogramme waarvoor Vaaldriehoekers hom sal onthou.
Benewens sy besondere talent as tweetalige omroeper , was hy ook ‘n begaafde skilder.

Marius is beskryf as iemand wat ‘n omgeehart vir ander gehad het, altyd reg vir ‘n grappie en met ‘n amazing sin vir humor. Geliefd deur sy familie, kollegas en vriende.
Baie sal nog hul eerste onderhoud met Marius onthou en hoe hy mense op hul gemak kon laat voel.
Hy laat ‘n groot leemte in die Vaaldriehoek maar ook as een van die land se groot radio-legendes. Een uit ‘n miljoen.



