Een sluis sal om 12:00 vanmiddag by Vaaldam oopgemaak word om die uitvloei op tussen 110 en 130 kubieke meter per sekonde te bring, afhangend van die watervlak. Die situasie sal gemonitor word en oewereienaars op hoogte gehou word.
Barrage het om 11:00 ses sluishekke oopgemaak en word die uitlaat op 269 kubieke meter per sekonde gemeet.
Vaaldam is tans 106,14% vol met invloei wat vanoggend gemeet is op 299,96 kubieke meter per sekonde. ‘n Totaal van 1,6mm reën is in die Vaaldam se opvvangsgebied gemeet.
Bloemhofdam se uitvloei sal om 10:00 verhoog word na 250 kubieke meter per sekonde.
Vaaldam – die verskil tussen kleppe en sluishekke:
Daar is dikwels by die publiek verwarring oor kleppe en sluise by Vaaldam. Agt kleppe is aan die onderkant van die dam en is altyd oop om ‘n natuurlike vloei te verseker. Daar word altyd water by die Vaaldam uitgelaat soos nodig vir gebruikers stroomaf en ter wille van ekologiese vloei. Die kleppe kan ook gebruik word om uitvloei by die dam te verhoog. Sluishekke daarenteen is aan die bokant van die damwal en word oopgemaak soos nodig om beduidend meer water uit te laat slegs en wanneer nodig om hoë vloei deur die sisteem toe te laat. Die sluishekke sal of oop, of toe wees.
Let wel dat daar nie tans sluise by Vaaldam oop is nie.
Vaal Barrage het ook sluishekke en kan beheer word in terme van hoe groot dit oopgemaak word. Sodoende is daar beheer oor hoeveel water by Barrage uitgelaat word.
(Dank aan Marc de Fontaine, Reënval in SA Facebook-groep vir dié inligting).



