Drank- en dwelmmisbruik ‘n struikelblok vir indiensneming
Baanbrekerswerk is gedoen om die jeug bekend te stel aan opleiding en werksgeleenthede in beide die staat en private sektor, met die aanbied van die vaardigheidsontwikkelingsprogram in Schonkenville.

Terwyl hoë vlakke van werkloosheid onder jongmense in Suid-Afrika kommer wek, blyk drank en dwelmmisbruik
ook ‘n struikelblok in die plaaslike gemeenskap te wees wanneer dit kom by indiensneming. Dit is uitgelig by ‘n
vaardigheidsontwikkelingsprogram wat in Schonkenville gehou is.
By die geleentheid het Julius Nong, bestuurder van Ekonomiese Ontwikkeling by die Damlaagte Solar projek, syfers bekendgemaak oor werk- en opleidingsgeleenthede wat dié projek vir die gemeenskap van Tumahole en Schonkenville gebring het, sedert dit in November 2023 begin is. “Konstruksie by Damlaagte is nou 90%
voltooi waarna met die operasionele en instandhoudingsfase begin
sal word,” het Nong gesê.
Hy het genoem dat die 97.5MW Solar Projek langs die R59 op die Gauteng/Vrystaat-grens, teen einde Januarie reeds 929 mense in diens geneem het, waarvan 365 van die plaaslike gmeenskap was.
Meer as 611 werksaansoeke is ontvang, en het in totaal 1 776 mense aan die projek gewerk insluitend werknemers wat vir ‘n kort periode in diens geneem is. Uit dié totaal was 565 van die Tumaholewoonbuurt, 139 van Schonkenville en 50 van Vredefort. Die projek het ook 13 ondernemings die geleentheid gebied om dienste by
Damlaagte te kon lewer.
Dit was ook nie net werksgeleenthede wat die projek aan die plaaslike gemeenskap gebied het nie. Nong het
gesê vaardigheidsopleiding is aan 132 mense gegee.
Hy het verwys na Damlaagte se samewerking met die Departement Maatskaplike ontwikkeling en SANCA vir die
aanbied van programme waar hulp gekry kan word ten opsigte van middelafhanklikheid, en gesê van die grootste probleme wat met indiensneming ondervind is, was alkohol- en dwelmverslawing by sommige applikante wat gevolglik nie die mediese keuringsproses kon slaag nie.
Hy het verder genoem dat applikante wat nie opgedaag het vir mediese keuring nie, selfone wat nie geantwoord
word nie, of nie professioneel geantwoord word wanneer applikante geskakel word nie, ook van die struikelblokke was.
Met die tweede fase van die projek wanneer Damlaagte aan die Eskom-netwerk gekoppel sal word, sal minder mense in diens geneem word, maar die Ilikwa solar projek sal die moontlikheid vir nog werksgeleenthede skep.
Mainstream was die ontwikkelaar van die Damlaagte projek met Power China Maanda as kontrakteur, en
LeadEPC and Tractionel Holdings as die twee subkontrakteurs.
Die vaardigheidsontwikkelingsprogram is op inisiatief van rdl. Mbuyiselo Tyumbu van Ngwathe se wyk 13 aangebied, met die ondersteuning van rolspelers. Baanbrekerswerk is gedoen om die jeug bekend te stel aan opleiding en werksgeleenthede in beide die staat en private sektor.
Van die rolspelers het ingesluit Telkom, Nedbank, Absa, FNB, Damlaagte, die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, Departement van Arbeid en die Departement van Ekonomiese en Klein Sake Ontwikkeling, Toerisme en Ekonomiese Sake. Volgens Tyumbu, het verskeie van die departemente en rolspelers met wie hy geskakel het, aangedui dat jongmense nie bewus is van die geleenthede vir vaardigheidsontwikkeling nie, en het die program dit aangespreek.