Oud en jonk help blomme vou by die duisende
Hierdie Saterdag word die dorp skoongemaak ter voorbereiding van die Kruistog, en op 12 April is die groot Kruisbou-dag wanneer honderde kruise gemaak sal word.

Vlytige vingers, oud en jonk het Saterdag die uitdaging in Vredefort aangepak om te kyk wie die meeste plastiekblomme in ‘n uur kon vou vir vanjaar se Kruistog-vlot. Die eindresultaat was 2 264 blomme presies gevou om in die ogiesdraad te pas wat die Kroon van vanjaar se vlot sal versier.
Die wenner was Theresa Joubert wat 173 blomme kon vou, met Michelle Roos, kort op haar hakke met 171 blomme. Beide Theresa en Michelle het elkeen ‘n spesiale Kruistog T-hemp en pet ontvang as prys.


Die gesellige saamkuier van jonk en oud by die Dinamika-gemeente waar die kompetisie gehou is, sien jy elke dag van die week wanneer daar van 08:00 tot minstens 13:00 al vir ‘n ‘n maand lank gewerk word om die minstens 20 000 plastiek blomme te vou.



Vir die eerste Kruistog wat vier jaar gelede gehou is, was 44 000 blomme nodig vir die Kruis-vlot, vertel Juan Greeff, een van die organiseerders van dié besondere Paasbelewenis wat vanjaar op 18 April in Vredefort gehou word.
Met die Kruistog stap duisende mense jaarliks die 3km sirkelroete met kruise deur die strate van dié Vrystaatse dorpie tot by die dorp se sportgronde waar die Kruistog ook begin.
Langs die roete is verskeie stasies wat verskillende uitbeeldings uit die lewe en bediening van Jesus voorstel.
Die Kruistog is ‘n gemeenskapsprojek, aangebied deur die gemeenskap en ter wille van die gemeenskap, vertel Greeff.


Hierdie Saterdag word die dorp skoongemaak ter voorbereiding van die Kruistog, en op 12 April is die groot Kruisbou-dag wanneer honderde kruise gemaak sal word.



