Parysenaars bloei 700 eenhede vir 2 000 lewens
Die Bloeddiens het skenkers bedank vir hul volgehoue toewyding om aan mense die geskenk van lewe te gee.
Tweeduisend lewens kon in 2024 gered word danksy bloed wat deur Parysenaars verlede jaar by die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens se mobiele skenkersklinieke in die dorp geskenk is.
‘n Sertifikaat ter erkenning van die meer as 700 eenhede bloed wat Parysenaars in 2024 geskenk het, is verlede week deur die Bloeddiens tydens ‘n spesiale erkenningsfunksie in Kroonstad oorhandig.
Parysenaars het met dié prestasie uitgestaan as die gemeenskap wat die grootste bydrae vir die Bloeddiens gemaak het.
Daar is ook die dag erkenning gegee aan rolspelers wat help om geleenthede vir bloedskenk moontlik te maak. Hieronder tel die Rotariërklub van Parys aan wie ‘n sertifikaat oorhandig is.



