Local newsNews

Asma-aanval eis sopkombuis-engel se lewe

"Die wêreld sal 'n beter plek wees met meer Janine Conways daarin."

“Kleine mensie met ‘n groot mond en ‘n hart groter as Afrika.”Dit is hoe die mense van Vredefort Janine Conway sal onthou.

Met die min wat sy gehad het, het Janine sedert 2020 in oorvloed by haar sopkombuis in Vredefort gegee vir hulle wat dit die nodigste gehad het. Donderdagaand het ‘n asma-aanval egter haar engelhande stilgemaak toe sy gesterf het onderweg na die Parys-hospitaal. Janine was 57 jaar oud.

Haar dogter, Celeste, vertel dat Janine ‘n hoë rsiko asmalyer was wat die afgelope tyd baie met haar bors gesukkel het.

Vir maande het sy beplan aan die bekendstelling van die naamsverandering van haar sopkombuis na Smeltpot van Hoop, wat hierdie week, Donderdag 10 April sou plaasvind.

Haar dogters sal ter nagedagtenis aan haar voortgaan met die funksie Donderdag 10 April om 15:00, na haar gedenkdiens wat die oggend om 09:00 vanuit die NG gemeente Vredefort gehou sal word.

Janine se droom was altyd om haar eie sopkombuis te begin, maar het sy nooit die finansiële ondersteuning gehad om dié droom te kon verwesenlik nie.

Toe kom die Covid-19 pandemie. Skielik moes daar oral planne gemaak word in gemeenskappe. Mense het hul werk verloor, ander se inkomste is gesny. Nood het oral aan deure geklop. ‘n Nood waarin Janine kon voorsien danksy die hulp van boere en die gemeenskap van die Vredefort-distrik. So kon sy tot haar dood elke week op ‘n Donderdag 70 mense help met ‘n bord kos.

Maar sy het meer gedoen as dit. Janine het daaraan geglo dat daar samesyn moes wees. Sy wou nie mense net ‘n bord kos in die hand stop nie, het sy altyd gesê.

By haar huisie in Charl Cilliersstraat het mense met nood elke week aangesit vir ‘n heerlike ete waar sy ook die evangelie bedien het. Mense moet met waardigheid behandel word, en moes voel dat hulle behoort, het sy gesê.

Toe die sopkombuis en kospakkie-projek aanvanklik begin is, het vier dankbare gesinne elk ‘n kospakkie ontvang. Soos die jare aangestap het, het getalle bly groei. Niemand is ooit weggewys nie.

Sy het die dorp plat geloop om skenkings te gaan haal. Almal het haar geken. As jou paaie met haar gekruis het, het sy moeite gedoen om jou deel van haar lewe te hou, vertel ‘n jarelange vriendin, Erna Rademan.

Janine het die huishoudelike omstandighede geken van elkeen vir wie sy help sorg het – ook talle bejaardes.

Ondankbaarheid het haar baie ontstel, en kortpad sou sy nooit vat nie – al die kos wat sy voorgesit het, wou sy self verwerk en berei.

Haar hele lewe het gedraai om die nood van ander. Sy kon vergewe sonder om ooit weer aan die onreg te dink, vertel  Erna.

Die naamsverandering van haar sopkombuis was iets wat die Here op haar hart gelê het, het sy gesê.

Voor haar dood was sy nog besig met die beplanning van ‘n naaldwerkprojek om mense te help om selfvoorsienend te wees. Dan was daar ook haar blikkie versamel-projek.

Van die laaste foto’s wat nog van haar geneem is, is waar sy verlede week ‘n omkapmasjien as geskenk ontvang het om haar naaldwerkprojek te kon begin, en waar sy saam met die vroue van die NG gemeente Vredefort help blomme vou het vir die Kruistog wat op Goeie Vrydag 18 April in Vredefort gehou word.

Janine met die omkapmasjien wat sy ontvang het om haar naaldwerkprojek te kon begin.
Tweede van links op die foto is Janine Conway saam met die NG gemeente Vredefort se vrouebiduur-groep wat verlede week gehelp blomme vou het vir die Kruistog.

Janine word oorleef deur haar dogters, Celeste, Elwierda en Bernadine, asook ‘n broer en suster.

“Die wêreld sal ‘n beter plek wees met meer Janine Conways daarin,” het Erna gesê.

”’Rus sag Janine, Vredefort se gemeenskap is armer sonder jou glimlag en omgee-hart.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button