Local newsNews

AfriForum-buurtwagte fnuik kabeldiewe se planne

Hierdie soort nasionale patrollies, wat AfriForum-buurtwagte landwyd op dieselfde dag ry, vind drie keer per jaar plaas.

AfriForum se buurtwagte in die Wes-Rand en Vaaldriehoek het op 11 April aan die burgerregteorganisasie se nasionale patrollie deelgeneem en  groot sukses behaal toe een van die buurtwagte kabeldiewe op heterdaad betrap het.

Altesaam 58 buurtwaglede in die Vaaldriehoek, wat Vanderbijlpark, Vereeniging en Midvaal insluit, het in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), plaaslike gemeenskapspolisiëringsforums (GPF) en verskeie privaat veiligheidsmaatskappye patrollies gery. Die lede het meer as 2 000 km afgelê.

Buurtwaglede van Vereniging het tydens die patrollie ’n voorval van kabeldiefstal voorkom deur die gebruik van hommeltuie. Buurtwaglede is in kennis gestel oor ’n vermeende diefstalpoging in Houtkopweg onder die R59-brug, toe hulle hommeltuie ontbied het. Die vermeende kabeldiewe het in ’n naburige veld weggekruip toe die hommeltuie toegesak het, maar met die buurtwag se aankoms op die toneel, was die kwaaddoeners reeds skoonveld. Die vermeende diewe was besig om ’n sementblok oop te kap om by die kabels uit te kom toe die buurtwag hul planne in die wiele gery het.

AfriForum se Wes-Rand-steunkring, wat Roodepoort, Johannesburg-Noord, Krugersdorp, Randfontein en Fochville insluit, het dieselfde aand 82 lede gehad wat patrollies in 35 voertuie gery het. ’n Totale afstand van 8 750 km is afgelê. Die buurtwagte het sigbaarheidspatrollies in gebiede gery wat brandpunte vir misdaad en dwelmhandel is. 

Hierdie soort nasionale patrollies, wat AfriForum-buurtwagte landwyd op dieselfde dag ry, vind drie keer per jaar plaas. Dit is nie net ’n magsvertoning nie, maar ontmoedig ook misdadigheid in gebiede. Dit bied ook die geleentheid vir AfriForum om ondersteuning aan die SAPD te bied en toekomstige samewerkingsgeleenthede te verbeter.

Volgens Esias Bootha, voorsitter van AfriForum se Johannesburg-Noord-tak, was die massapatrollie weereens ’n bewys van hoe goed verskillende takke as ’n eenheid kan saamwerk om mekaar in hul onderskeie dorpe en stede te ondersteun. 

“AfriForum se buurtwagte het definitief hul teenwoordigheid laat geld en misdadigers in Johannesburg-Noord, Roodepoort, Randfontein en Krugersdorp laat verstaan dat dié gemeenskappe onder hulle, die SAPD, GPF en ander veiligheidsmaatskappye se beskerming is,” sê Bootha.

Stephanus Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand en Vaal Driehoek, sê die betrokkenheid van die gemeenskap en samewerking met wetstoepassers en ander veiligheidsmaatskappye speel ’n belangrike rol in die bekamping van misdaad en die handhawing van veiligheid in woongebiede.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button