Leer jou kind om dinamies te wees
Nuuskierige volwassenes blink in die werksplek uit omdat hulle geneig is om kennis vanuit verskeie dissiplines in te win. Gevolglik kan hulle probleme met meer insig en kreatiwiteit oplos.
In die 21ste eeu is dit nie meer goed genoeg om net die nodigste te doen en terug te staan sodat ander mense die leiding neem nie. Ons moet ons kinders leer om dinamies te wees. Lizette van Huyssteen sê ook dat nuuskierigheid die belangrikste onderdeel is van ‘n ideale 21ste eeuse leeromgewing. Want, sê sy, wanneer nuuskierigheid afneem, stel kinders al minder belang in verkenning, ontdekking, speel, kreatiwiteit en eksperimentering. Meer nog, hul lewensvreugde neem af. Dis ’n bose kringloop. Die probleem is dat nuuskierigheid afneem wanneer dit nie gestimuleer word nie.
Hier is ’n paar wenke om nuuskierigheid te prikkel:
Prikkel doelbewus kinders se nuuskierigheid. Die heel maklikste manier om dit te doen is om tydens lesaanbiedings en alledaagse gesprekke met kinders “oop vrae” te vra om hulle oor die antwoord te laat nadink. (‘n Geslote vraag het net een antwoord, terwyl ‘n oop vraag op verskeie maniere beantwoord kan word.)
Onthou dat multisensoriese, tasbare (hands-on) leerervarings meer nuuskierigheid ontlok. Vanweë hul beperkte verwysingsraamwerk en konkrete ingesteldheid geniet jong kinders dit heelwat meer om te leer terwyl hulle aan voorwerpe raak en dit hanteer, en sover moontlik ook daarmee kan speel en eksperimenteer. Kinders tree ook meer nuuskierig op wanneer hulle kan beweeg terwyl hulle leer en nie net dophou wat gebeur of luister na wat iemand sê nie, maar self by die ervaring betrokke is en miskien selfs iets kan ruik en/of proe.
Besluit vooraf wat jou kinders oor ‘n onderwerp moet weet en gebruik dit as ‘n vertrekpunt.
Wanneer hulle dit wat jy ten doel gestel het onder die knie het, kan hulle dan sélf besluit wat hulle verder oor die onderwerp wil leer deur hul eie vrae te vra en te sê waaroor hulle wonder. Tydens die res van die leerervaring kan julle daardie vrae dan saam beantwoord.
Nuuskierigheid hou lewenslank voordele in. Nuuskierige volwassenes blink in die werksplek uit omdat hulle geneig is om kennis vanuit verskeie dissiplines in te win.
Gevolglik kan hulle probleme met meer insig en kreatiwiteit oplos.



