Local newsNews

Meneer Piet het diep spore in baie harte getrap

Sy dood laat 'n groot leemte in die gemeenskap van Parys maar ook in die onderwys.

Hy was ‘n groot man met ‘n klein hartjie wanneer dit gekom het by ander se nood. Iemand wie se onwrikbare liefde vir sy familie, sy opregte liefde vir die onderwys en kinders, en sy kennis van rekeningkunde waarvan hy ‘n meester in sy vakgebied was, jou altyd opgeval het.

Hy het ‘n indruk gemaak op elke kind wat ooit in sy rekeningkunde klas of saam met hom op die sportveld was. Baie loopbane in ‘n rekeningkunde rigting is gevorm daar in die rekeningkundeklas van mnr. Piet Fouché. Sy liefde vir die vak was aansteeklik.

‘n Gebore onderwyser, mentor, vriend, man, pa, oupa en steunpilaar wat skielik Dinsdagmiddag in die ouderdom van 64 jaar in Bloemfontein oorlede is.

Sy dood laat nie net ‘n groot leemte  in sy gesin nie, maar vir Hoërskool Parys waar hy van 1986 tot 2012 onderwyser in rekeningkunde en bedryfsekonomie was, en later ook adjunkhoof, asook in die onderwysdepartement waar hy as adjunk hoof onderwysspesialis ‘n groot bydrae gelewer het.

Piet se beker het oorgeloop met sy hartsmense en vriende om hom. Hy was lief vir die natuur, vir sport en vir mense. Nood het nooit ongesiens by hom verbygegaan nie.

Piet Fouche

Skole en die onderwys was na aan sy onderwyser-hart. Met toewyding en passie het hy talle kinders deur matriek met rekeningkunde gehelp. Wie onthou nie die ekstra klasse en groepsessies in die koshuis, kerksaal of by sy huis. Laataand en oor naweke se huiswerk en hoe hy getrou na ‘n vraestel wou hoor hoe dit gegaan het. Die grappies so eie  aan meneer Piet.

In die Suid-kerk het jy hom sien werk – getrou op sy pos by die basaar of waar hy nodig was.

Onder sy kollegas is hy gerespekteer vir sy kennis, maar veral sy vermoë om met sy besondere humorsin en menswees, meer as ‘n kollega te wees. ‘n Vriend wat opreg belang gestel het.

Sy vrou, Ezilda, kinders Dawie en Fralize, skoonseun Heinrich en kleindogter Alyssa was sy alles. Vir hulle het hy geleef.

Parys en elke kind met wie hy die pad gestap het sal meneer Piet onthou daar langs die rugbyveld en in die klaskamer waar die voetspore lê van ‘n man vir wie onderwys ‘n roeping was.

Sedert die nuus van mnr. Fouche se dood bekend geword het, het huldeblyke van talle oudleerders ingestroom. Ook die treffende woorde van Martsu Kriel:

Meneeer Fouché was nie net ‘n onderwyser nie – hy was ‘n inspirasie. ‘n Ware mentor wat kinders diep geraak en aangemoedig het om in hul eie krag te staan. Hy het nie net klas gegee nie; hy het harte gevorm en lewens verander. Hy was die beste onderwyser wat ek ooit gehad het. So goed, dat ek amper geglo het ek gaan rekeningkunde swot! By hom was dit nie ‘n moeilike vak nie – dit het maklik gevoel, want hy het dit maklik gemaak. Sy ‘triks’ blaaie, sy onuitputlike geduld, en die moeite wat hy ingesit het…

Dit was daardie een vak waaroor ons nooit geworry het nie. En wie kan daardie een spesiale Rek-dag in die vakansie vergeet?

Maar dan staan jy eendag op universiteit, sit in n rekeningkunde-klas, en jy besef mnr. Fouché is nie meer voor in die klas nie – en skielik verstaan jy niks. Want sy afwesigheid laat n leemte wat nie gevul kan word nie.

Sy invloed leef voort in almal wat die voorreg gehad het om deur hom onderrig te word. Hy het soveel jongmense aangeraak, hulle geïnspireer, en hulle geleer om in hulself te glo.

  • Ons opregte medelye aan sy gesin en familie in hierdie hartseer tyd.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button