Vloedwater: Hande gevat om te help keer
Daar is net weer bewys Parys het 'n ongelooflike gemeenskap wat telkens in geval van nood kan saamstaan en saamwerk.

Vrywilligers uit die gemeenskap van Parys met die hulp van besighede het sedert gister onverpoosd begin werk om self sakke en sand bymekaar te maak om op gereedheidsgrondslag te wees met sandsakke om te kan help waar ookal hulp sou nodig wees met die Vaalrivier se watervlak wat sedert Donderdag drasties begin styg het.
Juis omdat hulpmiddele min is in geval van nood, is die sandsak-projek voorkomend geloods.
Die laagwaterbrug na Gholfeieland in Parys is sedert Vrydag onder water en gesluit vir voetgangers en verkeer met water wat sterk oor die brug spoel. Water het opgestoot op die grasperke by die laagwaterbrug wat toegang na Parys Golf & Country Estate verleen.
Met die hulp van die gemeenskap, besighede en individue wat bygedra het met sakke, sand, en draad om die sakke toe te maak, en die Ngwathe Munisipaliteit wat dadelik toe gevra is vir hulp ‘n TLB beskikbaar gestel het, kon 400 sandsakke reeds vanmiddag hier by die laagwaterbrug en op die grasperke by die brug gepak word om te keer dat die water na die omliggende strate en eiendom oorstoot. Selfs besoekers het nader gestaan en help sandsakke pad.
Met die Vaalrivier-vloed in 2023 is groot skade aan die paaie hier veroorsaak weens die rivierwater wat in die strate afgeloop het.




Baie dankie aan elkeen wat reeds bygedra het, die span van Mica en vrywilligers wat kom help het om die sandsakke te pak, Pula Build-it, Van Niekerk Broers, die boere, Werner, Jeanette Fourie vir draad, Riana de Waal wat hulp verleen het met koördinering, Ngwathe se munisipale bestuurder dr. F. Mothamaha en Ngwathe se tegniese direkteur, Patricia Morokolo vir die onmiddellike bystand wat gegee is, almal wat gehelp het met sakke, en mense wat kos en water vir die vrywilligers gebring het wat sandsakke gepak het.
Dankie ook aan Parys Sekuriteit en WeCare vrywilligers wat sal help om seker te maak dat mense veilig bly veral in die omgewing van die hangbrug en laagwaterbrug na Gholfeiland waar heelwat voetgangers en verkeer gesien word soos wat mense kom water kyk.


Onthou asseblief dat water baie gevaarlik is in vloedsituasies juis weens die onvoorspelbaarheid daarvan. Maak asseblief seker dat kinders en troeteldiere nie naby die water kom nie, en bly uit die rivier uit.
Daar is steeds tien heksluise oop by Vaaldam.

Nog baie sakke (enige sakke – veevoer sakke, Hessian, Mieliemeel of ander soortegelyke sakke kan werk), sand, grawe, tou of draad om die sakke toe te bind, en gewillilge hande om die sakke te vul is nodig.
As jy nie sakke het nie maar graag wil bydra tot die projek kan sakke gekoop word by Hinterland, Pula Build-it, Ntsu of Mica.
As jy kan help laai jou skenking af by Cherry on Top, winkelnr 4, Eastern Mosaic
Vragte sand kan afgelaai word by Delverstraat 13 (2 blokke onder nuwe KFC)
Jy kan ook die volgende kontakpersone skakel
Vaughn – 072 468 6602
Lois – 083 419 7361.
Elke sak maak n verskil vir iemand in nood.



