Die reënval wat die afgelope maand in die Parys-distrik gemeet is, was van die natste April-maande nog die afgelope 50 jaar.
Baie saaiboere in die Vrystaat trek swaar en kan steeds nie in die lande kom om te oes nie. Nog reën word ook vir die week voorspel.
Boere van die Viljoenskroon, Bothaville en Frankfort-distrikte het meer as 100mm reën die afgelope paar dae gehad, tewyl in die Parys-distrik vir die maand reeds al 200mm reën gemeet is.
Hoewel daar vir mielieboere nog tyd is, is dit kritiek vir sojaboon en sonneblom oeste met die sojapeule wat oopbars as gevolg van die aanhoudende reën. Sojaboere kon juis nie vroeër stroop nie omdat die graan eers droog moet wees, en toe die graan droog was, was die lande te nat om in te te gaan.
Sonneblomme loop uit in die kop en val om in die nat lande. Ook duiwe rig groot skade aan in sonneblomlande.

Dan is daar ook die gevaar van die swamsiekte Schloretinia wat muf by soja en sonneblom kan veroorsaak as gevolg van die baie vog en min hitte.
Hennie Viljoen van die plaas Vlensburg in die Parys-distrik hou die afgelope 50 jaar rekord van reënvalsyfers in die distrik. Vergelyk jy sy jaarlikse seisoensyfers vir die distrik gemeet van 1 Julie tot 30 Junie, is die April-gemiddeld oor die jare 43mm – “minder as ‘n kwart van wat nou gemeet is,” sê hy.
Die April-syfer wat die naaste hieraan gekom het, was in 2022 toe 195mm reën in die Parys-distrik gemeet is, en is toe ook so gesukkel om te stroop. In die dorp self is 220mm reën by Susan van der Westhuizen in Eerstelaan gemeet, teenoor die 85mm wat sy by haar huis in April 2024 gemeet het.
Viljoen sê 2025 is beslis ‘n buitengewoon nat jaar met 770mm wat reeds vanaf 1 Julie gemeet is. Vorige rekords wat hy in die seisoenjaar gehou het dui op ‘n gemiddeld van tussen 600 en 640mm reën. Die natste seisoenjaar wat hy aangeteken het was in 2009/2010 toe 1 150mm reën gemeet is.
Vir boere in die Parys-distrik het reën die seisoen eers in November begin val, gevolg deur ‘n ondergemiddelde reënvalsyfer in Januarie. Die prentjie het egter drasties verander met ‘n nat Februarie, en het oeste in die najaar belowend gelyk. Met die swaar en aanhoudende reën in April is daar egter ernstige kommer oor oesopbrengste.
“Daar word gesê seisoene skuif vroeër, en dit blyk so te wees,” sê Viljoen.Waar boere voorheen meer reën in Oktober gehad het in die land se somerreënvalstreke, is daar nou meer reën in April/Mei.



