Chaos met haglike paaie, reën en vloedwater
Groot probleme op verskeie roetes in die Vrystaat veral in die omgewing van Bothaville, Viljoenskroon en Koppies, is die afgelope week ondervind met vloedwater, en gepaardgaande swaar reën. Spruite, riviere en waterpanne het sterk geloop en op baie roetes oor paaie gespoel.
Boere wat van die R720 Edenville/Koppies-grondpad gebruik maak sê hulle sukkel die afgelope vier jaar met die haglike toestand van dié pad, wat die afgelope week bykans onbegaanbaar was na swaar reën.
“Te midde van al die uitdagings wat boere reeds het, kan ons nie oeste uit kry nie. Vragmotors en voertuie val vas, en ons het al drie bakkies hier afgeskryf. Ons moet elke dag in en uit op die pad om werkers te vervoer en noodsaaklikhede vir die bedryf van die plaas te kry, maar kan eenvoudig nie meer hier ry nie,” sê Pieter en Karyn Booyens wat die wildsplaas, Ivory Game in die Koppies-distrik bedryf.
Karyn vertel daar is herhaaldelik met die provinsiale paaie departement gepraat oor die toestand van die pad, en is die pad al geskraap, maar met die eerste druppels wat val, spoel die pad weer oop.
Vroeër was die pad in ‘n beter toestand sê boere totdat begin is met die aanlê van ‘n waterpyplyn van Koppies na Edenville aan die kant van die pad. Swak instandhouding van die pad, en aanhoudende reën het tot gevolg dat die dubbelspoor-pad nou ‘n enkelspoor geword het. Met heelwat boere langs die pad wat nie ‘n alternatiewe roete het nie, is gevra dat die pad dringend opgevul moet word, en het die paaie departement by navraag beloof om die kwessie op te volg.

Groot probleme op verskeie roetes in die Vrystaat veral in die omgewing van Bothaville, Viljoenskroon en Koppies, is die afgelope week ondervind met vloedwater, en gepaardgaande swaar reën. Spruite, riviere en waterpanne het sterk geloop en op baie roetes oor paaie gespoel. Daar moes ook bontgestaan word om groot en diep slaggate reg te maak. Van die roetes wat geraak was, was die R30 tussen Bothavillle en Orkney, die R504, R59 tussen die N1-oorbrug en Parys, R59 tussen Parys en Vredefort, R59 tussen Bothaville en Viljoenskroon, die R30 by die Viljoenskroon-afdraai, R57 tussen Heilbron en Schonkenville, die pad tussen Heilbron en Phiritona, die N12 tussen Stilfontein en Potchefstroom, die R723 tussen Schonkenville en die N1, en die R721 Vredefort/Kroonstad-pad.
Talle voertuie het op paaie vasgeval in die water waaronder by Viljoenskroon, by die laagwaterbrug op die Schoemansdrift-pad by Jumanji, en op die R30 in die rigting van Orkney.
Vernon du Preez wat betrokke is by Noordwes/Vrystaat Landelike beveiliging het vertel dat ‘n Ford Ranger bakkie Vrydag uit die water oor die R30 tussen Bothaville en Orkney gehelp moes word, en daarna ook ‘n vragmotor en taxi Saterdag, op dieselfde roete. Die pad moes gesluit word vir verkeer, en so ook ander roetes wat oorspoel was.
Verdere skade aan die Vaal Eden S171 teerpad is ook met die reën gerapporteer en sê Arnold de Beer, inwoners wat van dié pad gebruik maak sukkel die afgelope 10 jaar al om hulp te kry van die provinsie vir die herstel van die pad. De Beer het vroeër gesê die pad is al die afgelope drie jaar onrybaar, maar dat die provinsie net nie die begroting het om voor te bly met al die skade aan paaie nie.
Gazette het vroeër berig oor die R719 tussen Wesselsbron en Bothaville, waar boere in die distrik genoodsaak was om self te begin met herstelwerk aan die pad wat ‘n belangrike vervoerroete vir boere en verskaffers is, en ook jaarliks swaar verkeer dra met die Nampo Oesdag wat eersdaags van 13 tot 16 Mei gehou word.



