Local newsNews

Waterrade nie skuldig aan water krisis nie, sê AWISA

Fokus moet verskuif na munisipale ineenstorting en hervorming

Die Vereniging van Water- en Sanitasie-instellings van Suid-Afrika (AWSISA) het teruggekap na bewerings dat Waterrade te blameer is vir die land se waterkrisis.

AWISA sê die huidige krisis spruit nie uit die optrede van Waterrade nie, maar uit die wye ineenstorting van munisipale bestuur en dienslewering, wat daartoe gelei het dat verskeie gemeenskappe vir dae sonder water gelaat is.

Waterrade is staatsondernemings onder Skedule 3B, gestig ingevolge die Waterdienste Wet (Wet 108 van 1997). AWISA sê dit is belangrik om te let daarop dat Waterrade selfonderhoudend is en geen staatsbystand of operasionele toelaes ontvang nie, in teenstelling met munisipaliteite wat verskeie infrastruktuurverwante toelaes ontvang.

Ten spyte hiervan skuld munisipaliteite meer as R28 miljard aan Waterrade vir grootmaatwater wat hulle verkry het, maar nie betaal het nie. Hierdie wanbetaling is die grootste bedreiging vir die volhoubaarheid van Waterrade. Alle munisipaliteite is waterdiensowerhede en het hulself as waterdiensverskaffers aangestel, ondanks ‘n gebrek aan die nodige tegniese, bestuurs- en finansiële kapasiteit. Die beoogde wetgewende wysigings sal waarskynlik bevoegde Waterdiensverskaffers lisensieer om hierdie uitdagings aan te spreek, meen AWISA

Die Presidensiële Water- en Sanitasie-Indaba en die Groen-, Blou- en Geen-Druppel-verslae wat in Desember 2023 deur die Departement van Water en Sanitasie vrygestel is, bevestig die krisis: meer as 100 munisipaliteite is disfunksioneel, met falende infrastruktuur, swak watergehalte en oneffektiewe gebruik van waterverwante toelaes. Miljarde rande in infrastruktuurfinansiering word jaarliks aan die fiskus teruggegee weens onvermoë om dit te bestee, wat openbare vertroue verder ondermyn en die krisis vererger.

Nietemin bly Waterrade munisipaliteite bystaan deur tegniese ondersteuning, noodwater en infrastruktuurriglyne te bied in die nastrewing van die sektor se grondwetlike mandaat en Suid-Afrika se verbintenis tot SDG 6 (voorsiening van skoon water en sanitasie vir almal). Wat dringend nodig is, is ‘n nuwe afleweringsmodel, sê AWISA.

Onder AWSISA se leiding het Waterrade ‘n Publiek-Privaat Spesiale Doelvoertuig (SPV) model voorgestel. Dit sal Waterrade, munisipaliteite en die privaatsektor in staat stel om saam te werk aan effektiewe, deursigtige en volhoubare waterdienslewering. Hierdie model het voorlopige ondersteuning van baie munisipaliteite ontvang en volle goedkeuring van die Ministerie van Water en Sanitasie en die Departement, en word daar nou gewag op instemming van die Nasionale Tesourie.

AWSISA het daarom  ‘n beroep gedoen op die parlement, insluitend die leierskap van partye soos Bou Een Suid-Afrika (BOSA), om die fokus te verskuif na strukturele hervorming en die aanspreek van werklike uitdagings, is in ‘n verklaring gesê en gevra dat die parlement dringend die ineenstorting van munisipaliteite aanspreek, toesig versterk en institusionele hervormings ondersteun wat Suid-Afrika se water-toekoms kan verseker.

Die feite is duidelik: Waterrade is nie die probleem nie. Hulle is deel van die oplossing

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button