Jarelange Parysenaar en passievolle onderwyser sterf op 84
Sy familie was sy trots en sy hartklop.

Ben Fouché Snr, jarelange boorling van Parys, oudonderwyser, skoolhoof, boer en bekende gesig van Stereta en Parys Grassnydienste, is op 7 Mei, enkele dae na sy 84ste verjaardag oorlede.
Ben is in Parys gebore en het sy laer- en hoërskoolloopbaan hier voltooi. Na skool is hy Bloemfontein toe waar hy onderwys studeer het. Dit is daar waar hy sy trouvrou – Hannah Engelbrecht, ‘n nooi van Molteno, ontmoet het. Hul pragtige liefdesverhaal sou uiteindelik oor bykans ses dekades strek met 58 jaar en tien maande se huweliksvreugde waarin hulle mekaar se maats en sielsgenote was.
Ben was van jongs af ‘n gebore en skitterende sportman, maar ook geliefde en passievolle onderwyser. Later word hy adjunkhoof en ook skoolhoof (en boer), wat na sy uittrede uit die onderwys, sinoniem geword het met Stereta en Parys Grassnydienste wat hy sedert die 90’s bestuur het.
Ben was ‘n mentor, ‘n inspirasie en steunpilaar. Sy liefde vir diere- en plante het geen perke geken nie, en het hy ook sy liefde vir die natuur, hengel en jag, aan sy kinders, skoonseuns en kleinkinders oorgedra, wat ‘n skatkis van herinneringe volgemaak het.
Ben was ‘n mense-mens wat onthou sal word vir sy vriendelike glimlag. Hy was altyd bly om mense te sien – eie aan sy karakter.

Sy familie was sy trots en sy hartklop en sal hulle hom onthou as liefdevolle, regverdige, omgee hartsmens. ‘n Man met inbors, waardes, en karakter. ‘n Lewensmaat, pa, oupa en oupagrootjie wie se voetspore diep lê – nie net in die gemeenskap nie, maar ook in die harte van elkeen wie se paaie met syne gekruis het.
Die gedenkdiens vir Ben sal Maandag (19 Mei) om 11:00 vanuit die AP Kerk in Kortstraat, Parys gehou word.



