Monument kry buiteluggimnasium
Die buiteluggimnasium is toeganklik vir alle ouderdomme en fiksheidsvlakke, en sluit ’n verskeidenheid oefentoerusting in wat met liggaamsgewig werk
‘n Buiteluggimnasium word op 17 Mei by die Voortrekkermonument in Pretoria geopen.
Die buiteluggimnasium is naby die Plaaswerf en Pioniersentrum geleë, omring deur bome, vars lug en ’n pragtige uitsig oor die Jakarandastad. Dit is toeganklik vir alle ouderdomme en fiksheidsvlakke, en sluit ’n verskeidenheid oefentoerusting in wat met liggaamsgewig werk, insluitend opstootstawe, parallelle stawe, klimrame en balansbalke.
“Die buitelewe is so deel van ons kulturele bestaan soos biltong en braaivleis. Ons kamp, ons jag, hou piekniek of kuier gesellig om die braaivleisvuur. Die buiteluggimnasium is nie net ’n opwindende uitbreiding van ons sport-en- leefstylaanbod nie, maar bowenal ’n belegging in mense se fisieke en geestelike welstand,” sê Dawid Brand, bedryfshoof: beeld en groei van die Voortrekkermonument.

Volgens Brand is daar legio bewyse van die voordele wat oefening in die buitelug inhou. Navorsing toon dat blootstelling aan natuurlike lig en vars lug stres verminder, jou gemoed verbeter en energie verhoog. Deur in die son te oefen, verhoog die produksie van vitamien D in die liggaam, wat ’n belangrike rol in been- en immuunstelselgesondheid speel.

“Om in ’n besonderse erfenisgebied soos die Voortrekkermonument-terrein te oefen, verbind mense met hul wortels en geskiedenis terwyl die oop ruimte ’n gevoel van vryheid en kalmte skep wat nie maklik in ’n geslote gimnasium nageboots kan word nie. Vir baie besoekers bring dit ’n gevoel van trots en verbondenheid, wat oefening ’n veel dieper betekenis gee – ’n gesonde liggaam huisves immers ’n gesonde gees,” sê Brand.

Brand nooi oud en jonk uit om deel te wees van die openingspret van die buiteluggimnasium op Saterdag 17 Mei om 08:00. “Kom bevorder ’n gesonde leefstyl vir die hele gesin binne ’n unieke kulturele konteks. Trek aan jou tekkies, bring ’n waterbottel, en kom oefen waar geskiedenis en gesondheid paaie kruis.”

Vir meer inligting oor die buiteluggimnasium, besoek https://vtm.org.za/sport-en- leefstyl/ of stuur ’n e-pos na leefstyl@kultuurtuiste.org.za



