Lang arm van die gereg se flinke optrede lei tot arrestasie van vermeende voertuigdief
Die man sal in die Sasolburgse landdroshof verskyn op klagte van die besit van 'n vermoedelik gesteelde voertuig

‘n 39-Jarige man is deur die polisie in Deneysville gearresteer vir die besit van ‘n vermoedelik gesteelde voertuig.
Die arrestasie volg nadat ‘n wenk gekry is van ‘n voertuig wat vermoedelik ‘n transitovoertuig onderweg na Deneysville agtervolg. Polisiebeamptes het blitsvinnig gereageer op die wenk en die voertuig waaroor inligting ontvang is, gekry.
Toe die voertuig deursoek is, is afgekom op bewyse dat met die voertuig gepeurer is, en het verdere ondersoek aan die lig gebring dat die bestuurder van die voertuig ook oënskynlik gesoek word vir ander misdade in Vrede.
Die voertuigbestuurder is hierop in hegtenis geneem en die voertuig gekonfiskeeer. Die man sal in Sasolburg voor die hof verskyn.



